Local sportSchool sportSport

Waterkloof wen eerste rugbytrofee van die seisoen

Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan het Saterdag hul lang trofee-droogte beëindig toe hulle net te veel skietgoed gehad het vir hul bure, Hoërskool Menlopark, in die eindstryd van die NWU Sportreeks.

Daar staan uiteindelik weer ’n beker in die trofeekas vir Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan, nadat hulle die afgelope paar seisoene telkens puik rugby gespeel het, maar in verskeie reekse net nie enduit kon gaan nie.

Die Klofies se eerstespan is Saterdag op die sportterrein van Hoërskool Eldoraigne as kampioen van die NWU Sportreeks gekroon, toe hulle met hul bure, Hoërskool Menlopark, afgereken het. Die eindtelling was 23-8 in Waterkloof se guns.

Hoewel die tempo van die wedstryd van die afskop af hoog was, het die senuwees maar aan albei kante gepla en ongedwonge foute het beide spanne se momentum aanvanklik versteur, terwyl die twee losskakels die skopskoen behoorlik ingelê het om gebiedsvoordeel te bewerkstellig. Menlo het egter die telbord aan die rol gesit met ’n strafdoel deur regtervleuel, Reinhardt Herbst, na sowat tien minute se spel.

Vyftien minute later was dit Menlo se haker, Declan Pelser, wat kon afrond om die eerste drie van die wedstryd te druk na ’n lynstaan dryfbeweging.

Dit was egter ook die Parkies se laaste punte van die wedstryd.

Waterkloof het hierna die druk begin opbou en gebiedsvoordeel geniet met hul aanvallende benadering. Kort voor rustyd is linkervleuel, Dennis Obi, in die hoek oor vir sy span se eerste drie, nadat Menlopark se verdediging effens aan die slaap gevang is met ’n tikskop-beweging naby die doellyn. Die rustydtelling was dus 7-8 in Menlo se guns.

’n Strafdoel deur losskakel Franco Cronjé het die Klofies se neuse voor gekry (10-8) vroeg in die tweede helfte. Daarna het die nuwe kampioenspan se stadige gif voorlangs begin resultate wys en toe Cronjé se tweede strafdoel tien minute later oor die dwarslat seil (13-8), kon hulle begin soek vir ’n volgende rat.

Menlopark het intussen ’n paar kanse om punte aan te teken met strafdoele verbrou, maar Cronjé het die telbord aan die rol gehou (16-8) met sy derde suksesvolle poging laat in die tweede helfte.

Puik spel by die afbreekpunte het Klofies in staat gestel om die tempo weer op te jaag in die laaste tien minute van die wedstryd. Dit het Menlo se verdediging oorhoops gehad en gapings agterlangs geskep, wat tot die besige binnesenter, Happy Makate, se drie gelei het om die oorwinning te beklink.

Nadat die Klofies verlede seisoen in die halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling in die halfeindrondte teen Hoërskool Dr. EG Jansen vasgeval het, sal hulle nou met groot vertroue eerskomende naweek in ’n tuiswedstryd hul veldtog in dié reeks teen Hoërskool Nelspruit kan afskop.

– Vir Menlopark was hierdie hele toernooi eintlik ’n triomf, nadat dié skool se rugbyspanne in 2023 ’n nagmerrie seisoen beleef het. Om die teleurstelling van hul eerstes se nederlaag in die eindstryd effens te versoet, kan die Parkies spog dat hul o.16 span as kampioen gekroon is toe hulle Hoërskool Kempton Park in ’n spannende eindstryd met 17-16 geklop het, terwyl hul o.15 span derde geëindig het ná hul oorwinning van 28-21 in die uitspeelstryd teen Waterkloof.

Menlo se rugbyspanne het boonop die trofee ontvang as algeheel beste rugbyskool in die NWU Sportreeks.

Die bestuur van Menlo se rugby moet beslis ’n pluimpie kry vir die wyse waarop hulle die skip so vining kon omdraai. Dié skool se spanne kan met groter vertroue die strawwe Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi aanpak.

Maklik gaan dٌít egter nie wees nie. Die Parkies begin hul aanslag eerskomende naweek teen een van die groot kanonne, Helpmekaar Kollege van Johannesburg.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 
Back to top button