Klofies breek dekadelange wendroogte teen Garsies

Ná ’n dekade-lange wendroogte teen hul bure van Garsfontein, kon Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan Saterdag uiteindelik weer die bordjies verhang in ’n skolerugby wedstryd wat as skitterende advertensie vir rugby op hierdie vlak gedien het.

Dis byna ongelooflik dat ’n hele dekade al verloop het sedert daardie dag in Mei 2014 toe Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan geskiedenis gemaak het om hul bure van Hoërskool Waterkloof vir die eerste keer ooit te klop.

Intussen het dit ’n gewoonte geword en hoewel daar ’n paar titansiese tweestryde was, kon Klofies sedert daardie dag nog nooit weer hul jonger buurman troef nie. Tot die afgelope naweek.

Waterkloof het op hul tuisveld in een van die opwindendste skolerugby wedstryde van die seisoen tot dusver die bordjies verhang met ’n oorwinning van 49-36.

Soos die telling aandui, was daar baie aksie. Die wedstryd, waarin elk van die spanne ’n helfte oorheers het, het elf drieë opgelewer.

Uiteindelik was die meer akkurate skopwerk van die Klofies se heelagter, Ronan Bastiaanse (22 punte met die skoen), die groot verskil tussen die twee spanne. Terloops, sy skepdoel van 51 meter in die eerste helfte en strafdoel van dieselfde afstand in die doodsnikke van die wedstryd, sal nog lank onthou word.

Die Klofies het na slegs drie minute die eerste punte aangeteken toe Bastiaanse ’n hele paar verdedigers geklop het met ’n teenaanval, waarna hy vir Happy Makate (binnesenter) oorgestuur het.

Kort daarna het die besoekers teruggeslaan met agtsteman Aiden King se stormram-drie ná ’n paar fases in die rooi gebied. Toe heelagter Junaid Pasensie vyf minute later onderskep en 50 meter nael om te druk, was die Garsie Bere se sterte in die lug.

Hierna het Bastiaanse se reuse skepdoel en ’n spreekwoordelike blitzkrieg van vier drieë in tien minute deur die Klofies gevolg en toe die verdedigende kampioen hul oë uitvee was die rustyd telling 38-12 in die tuisspan se guns.

In die tweede helfte het Garsfontein stadig maar seker hul ritme begin vind, minder foute gemaak en die momentum vanaf hul oorheersing in die vaste skrums beter begin gebruik.

Na nóg ’n kragdrie via dryfspel het die Garsies se agterspelers die ruimte wat hul voorspelers se oorheersing geskep het, begin benut. Toe kom die drieë een na die ander en die gaping op die telbord begin krimp.

Bastiaanse se drie strafdoele in die tweede helfte het egter die laaste sê gehad in die uitslag.

Nouja, ná hul oorwinning in die NWU Sportreeks eindstryd teen Hoërskool Menlopark en Saterdag se sege teen Garsies, moet Klofies se manne waarskynlik die gunsteling wees om Pretoria se vlag te dra in die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling.

Waterkloof kon hierdie prestigeryke toernooi laas in 2011 wen. Wie weet, dalk is hierdie span die manne wat aan dié skool hul sesde titel in hul 45ste bestaansjaar kan besorg.

Enigeen wat egter na hierdie wedstryd – en die Garsie Bere se vyf agtereenvolgende nederlae vanjaar – wil waag om die verdedigende kampioen in die Noordvaal Beker-toernooi af te skryf, doen dit op eie risiko. Onthou, hulle het Saterdag een drie méér as Waterkloof gedruk. In teenstelling met Bastiaanse se spogvertoning, het die skopwerk vir Garsies gelol. ’n Span wat egter teen rustyd op skolevlak met 26 punte agter is en dan in die tweede helfte self vier onbeantwoorde drieë inryg in hul terugvegpoging, se karakter en veggees is gevestig.

Al wat hierdie Bere kort is beter afronding en balretensie en dalk ’n losskakel wat die oorheersing van sy pak voorspelers – veral in die vaste skrums – beter kan benut.

Vir die Klofies het hul hardwerende slot, Stephan de Beer, flank Lendrey Janse van Vuuren en Makate uitgeblink, terwyl Dennis Obi, wat tot dusver vanjaar vleuel diens gedoen het, tevrede kan voel met sy losskakelspel, nadat hy die beseerde Franco Cronjé moes vervang.

Garsies se flank en kaptein, Luann Olivier, het weer die veld vol gespeel en oral opgeduik, maar hul voorry van Ethan van Wyk, Justin Blom en Luan van der Berg moet ook krediet kry vir hul skrumwerk en algemene spel. Dan was die plaasvervanger haker, Stephan Pretorius, ’n vuurvreter wat ’n groot rol gespeel het in die Bere se terugvegpoging.

– Hoërskool Menlopark het Saterdag hul tweede nederlaag gely in die Noordvaal Cup toernooi, toe Monument van Krugersdorp hulle met 59-25 getroef het.

Die Parkies speel eerskomende naweek op hul tuisveld in nóg ’n Pretoria derby – en ’n herhaling van verlede maand se NWU Sportreeks eindstryd – teen Waterkloof.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version