Local sportSport

Dis wéér Naka Bulls teen Northam Rhinos in Carltonbeker eindstryd

Naka Bulle en die Northan Rhinos het albei die afgelope naweek koning gekraai in die halfeindstryde van die Castle Carltonbeker toernooi en dié twee makro-rugbyklubs speel eerskomende naweek in die eindstryd teen mekaar.

In ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd in die Castle Carltonbeker klubrugby toernooi sal die Naka Bulle uit die Moot van Pretoria eerskomende naweek op hul tuisveld teen die Northam Rhinos van Setaria naby Thabazimbi speel.

Hoewel die Bosvelders vanjaar eerste op die punteleer geëindig het, is daar weens verskeie faktore voor die seisoen reeds besluit dat die eindstryd in Pretoria moet plaasvind.

– Nadat Harlequins (eindig derde op die punteleer) ’n baie goeie seisoen beleef het en met die feit in gedagte dat hulle Naka Bulle in die tweede rondte van vanjaar se toernooi geklop het, is ’n baie meer kompeterende halfeindstryd in die Moot verwag.

Naka Bulle het egter gewys dat hulle – ná ’n wisselvallige seisoen – hul top vorm herwin het deur Quins met 82-23 te vermorsel.

Die tuisspan het twaalf keer die doellyn oorgesteek in ’n vertoning waartydens hulle van die begin af voorlangs oorheers het. Met die besielende spel en leierskap van die flank, Luga van Biljon, wat onlangs ná twee seisoene uit Europa teruggekeer het en speel asof hy nooit weg was nie, het die manne van die Moot meedoënloos momentum gebou.

Agter die oorheersende pak voorspelers het manne soos Ethan Williams (skrumskakel), Theo Bosshoff (lossakel), Martin Austen (senter) en Pule Molokome (vleuel) agterlangs baljaar, terwyl Hansie Graaff elke nou en dan vanuit die heelagter posisie by hulle aangesluit het om groot skade aan te rig.

Anton Gerber (slot) en Carling Forwood (agtsteman) het voorlangs vir Quins nooit ophou veg nie, terwyl Brandon Cronjé weer sy klas vanuit die heelagter posisie gewys het met sy aanvallende spel en goeie skopwerk.

– Northam se Rhinos het met ’n oorwinning van 39-34 teen Tuks hul plek in die eindstryd bespreek.

Tuks, wat ’n puik tweede rondte in vanjaar se toernooi beleef het en met hul oorwinning verlede week teen die Northam Wolwe by die agterdeur ingeglip het om vir die halfeindrondte te kwalifiseer, het goed begin teen die Rhinos.

Teen rustyd was die studente nog met 17-15 voor en dit wou lyk of hul avontuurlustige hardlooprugby een te veel sou wees vir die swaar pak voorspelers van die Rhinos.

Die Bosvelders het egter juis hul krag voorlangs begin gebruik om die tempo te beheer en stadiger te maak.

Tuks wou egter nie bes gee nie en dié wedstryd het in ’n titansiese stryd ontaard, wat ook ’n stryd tussen die twee uitlopende twee speelstyle was.

Uiteindelik het die besoekers laaste gelag met ses drieë teen vier, terwyl Tuks erg ontwrig is toe hul staatmaker losskakel, Walter Visser, oënskynlik ernstig beseer is.

Ten spyte van die feit dat hulle Pretoria toe moet reis vir die eindstryd, kan daar geen twyfel wees dat die Northam Rhinos Saterdag met ’n reuse aanslag vorendag gaan kom om die beker te wen en sodoende geskiedenis te maak nie.

Dis algemene kennis dat een van dié klub se grootste doelwitte is om die eerste klub buite die grense van Pretoria te word om die Carltonbeker te wen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button