Groot uitdagings wag vir Oos-Moot se rugbyspanne
Hoërskool Oos-Moot het vanjaar weer ’n paar harde neute om te kraak in die komende rugbyseisoen en hul deelname in twee strawwe ligas gaan dié skool se rugby-diepte behoorlik toets.
Met die verskillende interhoër atletiekbyeenkomste wat verlede week in Pretoria plaasvind het, sal die skolesport fokus binne die volgende week of twee weer begin skuif na tradisionele wintersportsoorte.
Vir die Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne beteken dit een van die uitdagendste seisoene in jare. Daar word gesê dis makliker om vir ’n hoër liga te kwalifiseer as om jouself daar te vestig.
Oos-Moot het, ná ’n paar puik seisoene in die Noordvaal Skild-liga, verlede seisoen opgeskuif na die Plaat-liga, waar hulle moes meeding met top skole soos Hoërskool Transvalia, HTS Middelburg, Middelburg Hoërskool, die Ligbron Akademie van Ermelo, Hoërskool Kempton Park, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Klerksdorp.
Terwyl al hul spanne ’n bevredigende debuut in dié strawwe liga gemaak het, kon die Oosies se o.14 span daarin slaag om die eindstryd te haal, waar hulle naelskraaps teen Transvalia verloor het. Laasgenoemde het intussen opgesluif na die top Beker-liga.
Vanaar moet Oos-Moot hul posisie konsolideer en hul streef daarna dat meer spanne vir die uitspeelfase sal kwalifiseer.
Die liga-seisoen vir die trots van die Moot begin egter met nóg ’n strawwe kompetisie, wanneer hulle op 11 Maart die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof, in die NWU-reeks in ’n weg-wedstryd pak. Daarna volg ’n tuis wedstryd op 15 Maart teen een van hul ou aartsvyande, Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen.
Ander skole in dié toernooi sluit top eersteliga kragte soos Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Menlopark en Hoërskool Dr. EG Jansen in.
Op 21 Maart vind die halfeindstryde van die NWU-reeks op Middelburg plaas en die spanne wat kwalifiseer sal in die eindstryde op die naweek van 11 en 12 April aan die Oos-Rand speel.
Intussen sal Oos-Moot se spanne tydens die herfs-vakansie by toere betrokke wees. Die eerstespan reis na George vir ’n weeklange toer.
Kort na die eindstryd van die NWU-reeks skop die Noordvaal Cup toernooi op die naweek van 24 April af, wanneer Oos-Moot as gasheer sal optree vir nóg ’n ou vyand, HTS Middelbburg.
Volgens die skool se Sporthoof, Braam Pretorius, verloop hul voorbereiding volgens plan en Oos-Moot is positief dat 2025 ’n merkwaardige rugbyjaar kan wees.
Pretorius het ook sy dankbaarheid uitgespreek teenoor ABE Midas in die Moot, wat weer as hul borg sal optree vir die seisoen. Vanjaar word daar met die hulp van dié borg selfs ’n nuwe innoverende maatreël in werking gestel, wanneer die eerstespan oor tuis- en weg-truie sal beskik.
Daar kan geen twyfel wees dat Hoërskool Oos-Moot ’n sluimerende reus in alle skolesport – maar veral rugby – is nie. Wie weet, dalk is 2025 die jaar wat groot deurbrake voorlê en waarin Oos-Moot hul kan vestig as die voorkeur skool vir die baie jong sporttalent wat in die Moot beskikbaar is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
