Oorwinnings vir Klofies en Garsies, maar Parkies ly derde agtereenvolgende nederlaag
Daar was die afgelope naweek gemengde sukses vir die drie skole uit die ooste van Pretoria wat deelneem aan die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling.
Terwyl Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan steeds onoorwonne is in die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling en Hoërskool Waterkloof se veldtog weer op koers is ná twee goeie oorwinnings, het Hoërskool Menlopark die afgelope naweek verdere teëspoed gehad met hul derde agtereenvolgende nederlaag.
– Die enigste rede waarom die Garsie Bere nie tans bo aan die punteleer van die Beker-afdeling is nie, is die feit dat Helpmekaar Kollege twee wedstryde meer as hulle gespeel het.
Saterdag se sege van 32-20 vir die Bere oor Hoërskool Nelspruit was hul vierde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning.
Maklik was dit egter nie. Die Laevelders is ’n baie harder neut om te kraak as wat hul uitslae tot duver aandui.
Garsfontein het eerste bloed geruik toe flank Stefan van der Vyfer deurgestorm het van ’n uitgewerkte lynstaan-beweging. Nog ’n drie deur heelagter Junade Pasensie het die voorsprong gerek, maar die besoekers het kort daarna teruggeslaan met ’n drie ná ’n vinnige tikskop.
Hoewel die Garsies sonder die beseerde Proppie van den Berg swaar gekry het in die vaste skrums, het hul meer ondernemende algemene spel gelei na twee verdere drieë, wat aan hulle ’n bonuspunt voor rustyd verseker het.
Die Bere het in die eerste deel van die tweede helfte die momentum behou en nog twee keer gaan druk.
Nelspruit het egter in die laaste tien minute van die wedstryd hard geveg om terug te kom en ten minste ’n bonuspunt of twee te probeer jag, maar hulle kon slegs twee keer die doellyn haal.
– Waterkloof se oorwining van 40-15 oor Hoërskool Rustenburg was indukwekkend. Die seuns uit Noordwes is een van die spanne in die toernooi wat enige ander teenstander op ’n gegewe dag kan klop, maar die Klofies het ander planne gehad.
Jedri Swart se kragdrie het die Klofies se rekerning vroeg in die eerste helfte geopen. Dit was duidelik dat hul wedstrydplan – wat steun op kragtige voorspelerspel – werk toe haker Ruan Jacobs kort daarna ook met die hulp van sy mede voorspelers oor die doellyn kon beur.
Nadat die tuisspan met 14-3 voorgeloop het teen rustyd, het hulle die tempo probeer opjaag, maar dit was Rustenburg wat eerste toegeslaan het toe linkervleuel, Bradley Snyders, met ’n goeie individuele poging sy eerste drie gedruk.
Die Blou Tornado het egter hul struktuur behou en stelselmatig momentum gebou totdat Jacobs met ’n kraglopie oor is vir sy tweede drie.
Ná ’n puik breekslag het die flank, Divan Botha, meer as 50 meter soos ’n agterspeler genael om die tuisspan se bonuspunt-drie te druk.
Snyders se tweede drie was té min, té laat vir die Rusties, terwyl Kofies gewys het dat hul enduit fokus kan behou deur in die laaste vyf minute nog twee keer te druk.
– Na hul droom begin van sewe oorwinnings en ’n gelykop uitslag hierdie seisoen, het Menlopark die afgelope drie weke skielik grondpad begin ry en hul 27-47 nederlaag teen Hoërskool Transvalia daar uit Vanderbijlpark het hul verlore momentum bevestig.
Die besoekers uit die Vaaldriehoek het Menlo met ’n begeesterde vertoning op hul tuisveld verras. Hul fisieke benadering het die Parkies hoofbrekens besorg, soos die haker, Wihandré Kruger se drie drieë getuig.
Menlopark het self ingeklim en goeie rugby gespeel. Die telling kan effens misleidend wees, aangesien albei spanne vyf keer gedruk het. Die verskil was egter die skopvoet van Transvalia se losskakel, Jay-Dee Maree, wat al vyf drieë verdoel het en ook drie strafdoele en ’n skepdoel bygevoeg het vir sy bydrae van 22 punte.
Daarenteen kon die Parkies slegs een van hul drieë verdoel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





















