Zwartkop steeds onkeerbaar, klop Oos-Moot oortuigend
Hoërskool Zwartkop het hul posisie bo-aan die punteleer van die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling verstewig met Saterdag se indrukwekkende oorwinning oor nóg ’n aanspraakmaker in dié liga, Hoërskool Oos-Moot.
Die opmars van Hoërskool Zwartkop se merkwaardige eerste rugbyspan op pad na die uitspeelrondtes van die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling duur steeds voort.
Ná hul oorwinning van 36-15 oor Hoërskool Oos-Moot op laasgenoemde se tuisveld in Waverley, is die Zwarries nie net die enigste onoorwonne span in dié liga nie, maar hulle het ook hul twaalfde agtereenvolgende sege van die seisoen behaal.
Albei dié skole is ernstige aanspraakmakers in die Plaat-afdeling en die effek van die Oosies se nederlaag is versag, nadat Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp Saterdag onverwags teen HTS Middelburg verloor het.
Vir Oos-Moot het die wedstryd feestelik begin toe hul agtsteman en kaptein, Jaydon Botha, met ’n spesiale trui op die veld gedraf het om sy 50ste wedstryd vir die span te vier. Hy het boonop ’n baie goeie wedstryd beleef en veral op die verdediging was sy werkverrigting enorm.
Zwarries het egter nie lank geneem om Botha se partytjie te bederf nie, want hul rateltaai flank, Mikka Allers, is na net vyf minute oor die doellyn vir die eerste drie van die wedstryd.
Die tuisspan het teruggeslaan met ’n drie deur heelagter Brian Jacobs en toe binnesenter Jeandré Venter kort daarna ’n strafdoel deur die pale jaag, was die Oosies kortstondig die voorlopers op die telbord.
Zwartkop het egter van rat verwissel en drieë deur hul spoedvraat vleuel, Shayden Botha, en die hardwerkende slot, Ettien van Niekerk, het die rustyd telling op 22-10 in die besoekers uit Centurion se guns te staan gebring.
Oos-Moot is bekend as ’n span wat nie maklik gaan lê nie, maar hul aanslag in die tweede helfte het ’n knou gekry toe Zwartkop wéér eerste punte aangeteken het met ’n puik individuele drie deur die ander slot, Logan Knott, wat 35 meter ver genael het om die doellyn te haal.
Daarna het die tuisspan hard teruggeveg en vir ’n lang periode spel oorheers, maar Zwartkop se verdediging was indrukwekkend. Die Oosies se losskakel, Dewron Aford, het boonop die bal aangeslaan terwyl hy dit wou druk ná ’n tydpoerk van goeie spel deur die tuisspan in die rooi gebied.
Met ’n kwartier speeltyd oor het Roan Joubert se drie aan Oos-Moot se ondersteuners hoop gegee, maar Zwartkop het hul ritme teruggevind en in die doodsnikke weer gedruk om die oorwinning te verseël.
Met net ses ligapunte wat die eerste sewe spanne op die punteleer van hierdie liga skei, gaan die afdeling nog baie interessante rugby oplewer. Zwartkop speel eerskomende naweek tuis teen Wesvalia, terwyl Oos-Moot Ermelo toe moet reis om die Ligbron Akademie op hul tuisveld aan te vat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







