Local sportSchool sportSport

EG Jansen skok Waterkloof, Garsfontein oorleef aanslag van Rustenburg

Terwyl die Garsie Bere in Noordwes hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling teen Rustenburg behaal het om hulself bo-aan die punteleer te vestig, het Waterkloof onverwags op hul tuisveld teen Dr. EG Jansen verloor.

Die verdedigende kampioen in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Garsfontein, is na hul oorwinning van die afgelope naweek nou heel bo aan dié liga se punteleer, maar Hoërskool Waterkloof se veldtog het ’n terugslag beleef toe hulle ’n onverwagse nederlaag gely het.

–  Die Garsie Bere het Hoërskool Rustenburg in ’n opwindende wedstryd op laasgenoemde se tuisveld in die Noordwes provinsie met 33-27 geklop.

Albei spanne het van die afskop af gewys dat hulle lus is om met die bal te hardloop en die wedstryd het ’n paar puik drieë opgelewer, terwyl dit spannend geëindig het met die besoekers wat hard moes werk om die oorwinning baie laat in die kragmeting te beklink.

Rustenburg het die Garsie Bere van die begin af goed skrikgemaak en ná ’n vroeë strafdoel ook die eerste drie van die wedstryd gaan druk, wat aan hulle ’n voorsprong van 10-0 sou gee.

Twee drieë deur die Bere – een deur die voorspelers en een ná ’n puik uitgewerkte beweging deur die agterlyn – het hulle kortstondig laat voorloop op die telbord.

Met ’n strafdoel en nog ’n drie het die Rusties dit reggekry om teen rustyd met 20-12 voor te loop.

Toe die tuisspan se wakker skrumskakel, Adriano George, die Garsies kort na die begin van die tweede skof aan die slaap vang met ’n drie ná ’n vinnige tikskop, was die voorsprong 27-12.

Soos telkens tevore vanjaar het die Bere kalm gebly en stadig maar seker beheer geneem met hul kragspel voorlangs en die opwindende hardlooprugby waarvoor hul agterspelers so bekend is. Drie drieë later was die eindtelling op die telbord.

– Op Waterkloof se sportterrein in Erasmuskloof het Hoërskool Dr. EG Jansen die tuisspan geskok met ’n oorwinning van 22-20, in ’n wedstryd vol spanning en drama.

Dit was sommer gou duidelik dat die Jansies, wat tot dusver vanjaar gesukkel het in die toernooi, Pretoria toe gekom het met die wete dat hulle eenvoudig hierdie wedstryd móés wen as hulle nog die kans wou hê om hul seisoen om te draai.

Klofies het egter vroeg reeds die telbord aan die rol gesit. Hul eerste punte het gekom via ’n strafdoel van hul kaptein en losskakel, Runan Bastiaanse. Kort daarna is ’n strafdrie bygevoeg, toe EG Jansen se heelagter, Deshean Pietersen, die Klofies se linkervleuel, Jaiden Badenhorst, om die nek beetgekry het terwyl hy oor die doellyn probeer duik.

Toe Waterkloof se woelige haker, Ruan Jacobs, na sowat ’n halfuur se spel ’n dryfbeweging vanaf ’n  lynstaan afrond, wou dit lyk of die tuisspan sake onder beheer het.

Die Boksburgers het egter kort voor rustyd toegelsaan en binne drie minute twee keer gaan druk om die rustyd telling op 15-12 in Klofies se guns te staan te bring.

Ondersteuners van die Blou Tornado het asem geskep toe hulle vroeg in die eerste helfte weer eerste oor die doellyn is met ’n drie deur flank Divan Botha. Soos met Jacobs se drie was die doelskop ongelukkig skeef en dit sou Klofies se laaste pune van die wedstryd wees.

EG Jansen het bygehou op die telbord met ’n strafdoel en twee minute voor die eindfluitjie is hul linkervleuel, Jordan van der Westhuizen, in die hoek oor vir ’n puik drie. Losskakel Dian Botha het van die kantlyn af verdoel tot groot vreugde van die ondersteuners uit die Oos-Rand.

Bastiaanse het in die doodsnikke ’n geleentheid gekry om sy span te red met ’n stafdoel van langer as 50 meter, maar teen die wind in was dit net te veel gevra.

  • Waterkloof en Menlopark (wat die agelope naweek ’n loslootjie gehad het) lê tans saam met EG Jansen in die vyfde, sesde en sewende plekke op die Beker-afdeling se punteleer. Al drie spanne het reeds vyf wedstryde gespeel en al drie het tans 11 ligapunte, wat beteken dat slegs hul punteverskil elke skool se posisie op die punteleer sal bepaal. Terwyl Garsfontein en Helpmekaar in redelike gunstige posisies op die punteleer lê, lyk dit op hierdie stadium of Klofies, Parkies en die Jansies saam met Transvalia sake gaan uitspook vir twee plekke onder die top vier, wat aan die uitspeelrondtes sal deelneem.
  • Die goeie nuus vir Klofies en Parkies is dat hulle reeds teen mekaar én teen Garsfontein gespeel het en dat beide dié spanne se lot dus nog in hul eie hande is. Wat dié twee spanne nou nodig het is vier agtereenvolgende oorwinnings elk. As hulle daarin slaag, is dit moontlik dat drie Pretoria-skole in Augustus in die halfeindstryde van die liga betrokke kan wees.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button