Local sportSchool sportSport

Garsies steeds onoorwonne, harde werk lê voor vir Klofies en Parkies

Terwyl Garsfontein se eerste rugbyspan steeds onoorwonne én bo-aan die punteleer van die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi is, lê ’n harde stryd vir hul twee buurskole, Menlopark en Waterkloof, voor as die reeks na die Julievakansie hervat.

Hoewel Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan dinge vir hul self moeilik gemaak het en wéér byna verras is in hul wedstryd Saterdag op hul tuisveld teen Hoërskool Transvalia, kon hulle uiteindelik hul onoorwonne rekord behou om die verdediging van hul titel in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup op koers te hou.

Die Garsies het ’n hardnekkige aanslag – veral in die tweede helfte, nadat die twee spanne teen rustyd nog met 17-elk gelykop was – afgeweer om Transvalia met 43-41 te klop.

Met die komende Juliemaand onderbreking in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup tydens die skoolvakansie, is die Garsie Bere met 30 ligapunte nou gerieflik drie punte voor hul naaste teenstander, Helpmekaar Kollege van Johannesburg, op die punteleer. Helpies het boonop ’n wedstryd meer gespeel as die Pretorianers.

Intussen het Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Menlopark sake vir hulself moeilik gemaak deur die afgelope naweek albei nederlae te ly. Klofies het met 43-52 teen die einste Helpmekaar vasgeval, terwyl Menlopark met 22-34 teen Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg verloor het.

Hierdie verloop van sake beteken dat Waterkloof en Menlopark ná die Julie-vakansie met hul rug teen die muur sal moet veg en boonop waarskynlik ’n guns of twee van ander spanne nodig sal hê as een of albei van hulle nog onder die top vier wil eindig om die uitspeelrondtes te haal.

Beide Klofies en Parkies het slegs een ligapunt in hul wedstryde die afgelope naweek verdien, nadat albei daarin geslaag het om ten minste vier drieë druk. Dit beteken dat hulle na dese met 12 ligapunte elk onderskeidelik in die sesde en sewende plekke op die punteleer sal wees totdat die kompetisie op 26 Julie hervat.

Saam met dié twee Pretoria skole is Hoërskool Monument ook op 12 ligapunte. Die versil is dat Monnas een wedstryd minder gespeel het as die Pretorianers. Die Wesranders het egter tot dusver gesukkel en hulle moet nog teen al drie die Pretoria skole (Garsies, Klofies en Parkies) speel. Hul ander wedstryd is weg teen Rustenburg, wat ook moeilik sal wees.

Met Garsfontein en Helpmekaar in die twee top posisies op die punteleer, sal Klofies en Parkies se stryd vir top-vier plekke waarskynlik wees teen Noordheuwel (vier oorblywende wedstryde), Transvalia (vier oorblywende wedstryde) en EG Jansen (drie oorblywende wedstryde).

Noordheuwel moet in hul oorblywende vier wedstryde ook teen al drie die Pretoria skole, sowel as Transvalia speel, wat hul veldtog moeilik kan maak.

Transvalia moet ook drie van hul vier wedstryde speel teen ander aanspraakmakers (Helpies, Klofies en Noordheuwel), terwyl hulle waarskynlik sal glo dat hul tuisbepaling teen Nelspruit ’n kans sal wees om vyf ligapunte te kry.

Hoewel twee van EG Jansen se oorblywende wedtryde teen die twee spanne onder aan die punteleer (Nelspruit en Rustenburg) is, is dit albei weg-wedstyrde en dié twee spanne het reeds gewys dat hulle enigiemand tuis kan klop.

Hierdie liga gaan dus nog in die pylvak tot wanneer die uitspeelfase teen middel Augustus aanbreek vir groot opwinding sorg, met agt van die tien spanne wat almal nog ’n realstiese kans het om onder die top vier te eindig.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button