Local sportSchool sportSport

AHMP skep unieke gholf-geleentheid vir skooldogters

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) bied eersdaags ’n baie unieke gholftoernooi eksklusief vir skooldogters aan.

Hoewel professionele vroue-gholf al sedert die 1950’s ’n realiteit is, het vrouens se deelname aan die sport op amateur én professionele vlak oor die afgelope paar dekades weens verskeie redes dramaties gegroei.

Dis nie net die supersterre van vroue-gholf wat die wêreld vol reis en groot geld verdien op die mooiste gholfbane van Amerika, Europa en Asië nie. Suid-Afrika het ook professionele vrouespelers wat internasionaal uitblink, terwyl die plaaslike Sonskyn-toer vir vroue geleenthede bied aan Suid-Afrikaners om hul merk te maak.

Hoewel daar verskeie geleenthede vir vrouespelers is om op amateurvlak in Suid-Afrika te kompeteer, is daar volgens kenners nog ’n leemte ten opsigte van kompeterende gholftoernooie waaraan skooldogters as individue teen hul eweknieë op skolevlak kan deelneem.

Hierdie feit was die inspirasie vir die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) se projek in samewerking met die Gauteng Noord Gholf-unie om ’n eksklusiewe gholftoernooi slegs vir skooldogters aan te bied.

Die splinternuwe AHMP Ope Skole-gholftoernooi vir dogters sal vanjaar vir die eerste keer oor twee dae op 22 en 23 Augustus aangebied word.

Twee van Pretoria se beste bane is uitgekies om die unieke gholftoernooi te huisves. Deelnemers sal elke dag van dié tweedag-toernooi 18 putjies speel. Die eerste dag word op die Waterkloof baan gespeel, terwyl die aksie op dag twee na die Silver Lakes baan verskuif.

Skooldogters tussen in die ouderdomsgroepe o.11 en o.19 is welkom om in te skryf, ongeag hul vaardigheidsvlakke op die gholfbaan. Hierdie aspek sal aangespreek word deur die toernooi in drie afdelings aan te bied, wat volgens die spelers se voorgee bepaal sal word. In elke kategorie sal ’n kampioen gekroon word.

Die kompetisie is uniek, aangesien dit ’n toernooi sal wees waaraan spelers as skooldogters nié in spanverband, maar op individuele vlak gaan deelneem.

“Daar bestaan nie nog so ’n gholftoernooi vir skooldogters nie. Hierdie is ’n geleentheid vir alle skooldogters, selfs dié uit kleiner skole en plattelandse gebiede waar hulle dalk nie die kans kry om in skoolverband aan gholf deel te neem nie,” het Lize-Marie Schwartz van AHMP aan Rekord verduidelik.

Schwartz is ook opgewonde oor ander unieke aspekte rondom die toernooi, soos die eksklusiewe baadjie wat die wenner sal ontvang, soortgelyk aan dié van beroemde professionele toernooie. Opwindende pryse sal ook tydens die toernooi op die spel wees.

Inskrywings word beperk en sluit op 8 Augustus 2025. Belangstellendes kan meer besonderhede op AHMP se sosiale media platvorms kry, of kontak Lize-Marie Schwartz by lizemarie.schwartz@ahmp.co.za .

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button