Parkies klop Monnas en hou hul kanse lewend in Noordvaal Cup toernooi
Terwyl Menlopark hul kanse om vir die halfeindrondte in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi lewend gehou het met ’n goeie oorwinning oor Monument, het Garsfontein hul eerste nederlaag van 2025 in die reeks gely en Affies het die jaarlikse derby teen Waterkloof maklik gewen.
Die liga-fase van die top Beker-afdeling in die Noordvaal Cup skolerugby toernooi stuur af op ’n spannende einde met die spreekwoordelike drie honde wat oor een been gaan baklei om die vierde span te wees wat vir die halfeindrondte op 23 Augustus kwalifiseer.
– Hoërskool Menlopark het Saterdag op hul tuisveld seker gemaak dat hulle een van hierdie drie honde is, toe hulle sewe drieë ingeryg het om Hoërskool Monument met 39-37 te klop in ’n wedstryd wat tot in die laaste sekondes in die weegskaal was.
Die Parkies was ongetwyfeld die beter span – veral in die tweede helfte – maar ongelukkig was hul skopwerk na die pale ’n kwelpunt en daarmee het hulle vir Monnas, wat slegs vier keer kon gaan druk, ’n agterdeur oopgelaat.
Monument se vierde drie is gedruk met minder as ’n minuut se speeltyd oor en die tuisspan se ondersteuners het naels gekou in die doodsnikke van die wedstryd. Gelukkig kon die Parkies kophou en die oorwinning beklink.
Een van die belangrikste aspekte van hierdie wedstryd wat Menlopark se ondersteuners hoop sal gee, is dat hulle karakter gewys het deur terug te veg, nadat hulle met 12-27 teen die begeesterde Krugersdorpers agter was teen rustyd.
Die Parkies se groot held was regtervleuel Bladen Petersen, wat vier van sy span se sewe drieë gedruk het. Die besoekers het eenvoudig geen teenvoeter vir sy spoed gehad nie.
Menlo is nou in ’n stryd gewikkel met Hoërskool Transvalia en Hoërskool Dr. EG Jansen om in die vierde plek op die punteleer te eindig, terwyl Helpmekaar Kollege, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Noordheuwel reeds vir die halfeindrondte gekwalifiseer het.
Die Parkies sal Hoërskool Noordheuwel (weg) en Hoërskool Rustenburg (tuis) met bonuspunt oorwinnings moet klop in hul laaste twee liga-bepaligs. Daarbenewens sal hul hoop gevestig wees dat Transvalia (Waterkloof weg en Noordheuwel tuis) en EG Jansen (Nelspruit weg en Garsfontein tuis) albei ten minste een keer sal verloor sonder om bonuspunte te verdien.
Garsie Bere val vas aan die Wesrand
Hoërskool Garsfontein se nederlaag van 22-28 teen Noordheuwel het ook onnodige druk op die verdedigende kampioen geplaas.
Behalwe vir die feit dat hul onoorwonne status daarmee heen is, sal die Garsies ook hul laaste ligawedstryd op 16 Augustus in Boksburg teen EG Jansen met ’n bonuspunt móét wen om seker te maak dat hulle bo-aan die punteleer eindig en dus vir ’n tuiswedstyd in die halfeindronte én moontlike tuis-eindstryd kwalifiseer.
Hoewel die Garsie Bere waarskynlik ook – met reg – ander redes kan hê waarom hulle ontevrede sal wees met Saterdag se uitslag teen Noordheuwel, sal hulle self moet erken dat dit nie hul beste vertoning van die jaar was nie.
Een van die kenmerke van hierdie span van Garsfontein is hul vermoë om af te rond wanneer hulle in die rooi gebied kom. Saterdag teen Noordheuwel het hulle egter verskeie geleenthede geskep wat nie in punte omskep kon word nie.
Die Garsies het boonop voorlangs – veral by die vaste skrums – oorheers, maar kon nie behoorlik munt slaan uit hierdie voordeel nie.
Aan die positiewe kant is hierdie nederlaag waarskynlik die regte medisyne op die regte tyd. Die Wesranders was beslis die beter gemotiveerde span op die veld en met hul oorwinning het hulle boonop hul plek in die halfeindrondte verseker.
Affies karnuffel moedige Klofies
Aan die ander kant van die N1 snelweg het Hoërskool Waterkloof en hul ou aartsvyand, die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), mekaar vir die 47ste keer in dié gewilde Pretoria-derby op Klofies se tuisveld gepak.
Ja, dis ’n ou cliché, maar Affies se wedstrydplan was geskoei op tradisionele Bloubul rugby – hul voorspelers het die Klofies voorlangs oorrompel, terwyl hulle agterspelers kon baljaar met die goeie balbesit en spasie wat dié oorheersing moontlik gemaak het. In ander woorde, maak sag voor en slaan hard agter.
Die Wit Bulle het na net drie minute se spel hul eerste drie gaan druk en daarna was Waterkloof regdeur onder druk.
Tien drieë vir die besoekers later het Affies met 64-19 gewen. Dit was veral hul aanwending van die rolmaal beweging voorlangs wat net te veel gate geskep het vir Waterkloof om toe te stop.
Soos ’n mens die Klofies oor die afgelope paar seisoene leer ken het, het hulle nooit tou opgegooi nie, al was hulle teen rustyd al met 7-31 agter op die telbord.
Affies was egter hierdie keer net te sterk, vinnig en vaardig om aan Blou Tornado ’n kans te gee om die gety te draai.
Dit was Affies se sesde agtereenvolgende oorwinning in dié derby, terwyl Klofies laas in 2017 hierdie byna 40-jaar oue derby kon wen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

























