Pretoria-Noord se sagtebalspanne spog met sakke vol medajes en vier kampioenskap titels
Die sukses van Hoërskool Pretoria-Noord se sagtebal spanne in die onlangse provinsiale kampioenskappe het weer beklemtoon dat hulle onder die heel bestes in die provinsie gereken kan word.
Die harde werk op die oefenveld van spelers en afrigters, asook puik organisasie van die administrateurs van Hoërskool Pretoria-Noord se sagtebalspanne het skitterende resultate gelewer tydens die afgelope seisoen en die skool het weer uitgestaan as een van hierdie gewilde sport se bestes op skolevlak in Gauteng.
Hierdie feite is bewys tydens die Tshwane Sagtebal Skole-vereniging se onlangse Gauteng-Noord kampioenskap by die Crafford Stadium in Rietondale, asook die Gauteng kampioenskap wat die afgelope naweek by Hoërskool Oos-Moot in Pretoria aangebied is.
Al vier Pretoria-Noord se seuns A-spanne het na die Gauteng-Noord (Tshwane) kampioenskap eindstryde deurgedring, terwyl die o.16-A dogters-span ook hul skool in die eindstryd by dié geleentheid verteenwoordig het.
Hierdie vyf spanne het uiteindelik almal met medaljes teruggekeer. Die o.15 en o.19 seuns was die skool se top presteerders en dié twee spanne is albei as Gauteng-Noord (Tshwane) kampioene gekroon, wat nie net aan hulle die goue medaljes besorg het nie, maar ook verseker het dat hulle sou deurdring na die afgelope naweek se groter Gauteng kampioenskap.
Intussen het Pretoria-Noord se o.14-A en o.16-A seuns-spanne, asook die o.16-A dogters-span almal silwer medaljes by die Tshwane kampioenskap gewen.
Na afloop van die Gauteng-Noord kampioenskap is agt spelers van Pretoria-Noord vir hul puik spel beloon met individuele tekennings.
Hoewel die o.14-A seuns net-net (8-9) teen Hoërskool Hartbeespoort in hul eindstryd verloor het, is Johan Velthuizen as beste kolwer aangewys en Jaydrian Brandon is gekroon as beste speler.
Die o.15-A seun het Hoërskool Wagpos met 8-6 in die eindstryd geklop en Dylan du Plessis is as beste kolwer aangewys, terwyl Christopher Runnels die toekenning as beste speler ontvang het.
Pretoria-Noord se o.16 dogters het wel teen die Afrikaanse Hoër Meisieskool in die eindstryd verloor, maar Jessica Watt het die prys as beste kolwer ontvang en Anelshka van Dyk is aangewys as beste speler.
Ook die o.19 seuns se goue medalje, nadat hulle die eindstryd teen Homespun (’n gemeenskap-span bestaande uit tuisskool leerlinge) met 4-2 gewen het, is gekomplimenteer deur Rohan Louw se toekenning as beste kolwer en Jayden Neethling se prys as beste speler.
Die afgelope naweek het die skool se o.15-A en o.19-A seuns die kersie op die koek van hul sagtebal seisoen geplaas toe hulle albei as Gauteng kampioene gekroon is.
Om alles te kroon het dié twee spanne boonop elk twee spelers opgelewer wat individuele toekennings na afloop van die Gauteng kampioenskap ontvang het.
Die o.15-A span se Divan Botha is as beste kower aangewys, terwyl Dylan du Plessis algeheel as beste speler gekroon is.
Jayden Neethling van Pretoria-Noord se o.19-A span is as Gauteng se beste kolwer aangewys en die prys vir algehele beste speler in dié ouderdomsgroep is aan Nathan Oosthuizen toegeken.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.












