Garsies se krieketspan volg in hul rugby-broers se kampioen-spore
Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan het die afgelope naweek hul rugby-kamerade nagedoen om as die beste span Noord van die Vaalrivier gekroon te word, toe hulle die Fain Noordvaal titel ingepalm het deur die eindstryd teen Hoërskool Dr. Malan van Meyerton te wen.
Die jaar 2025 sal in die skolesport annale bekendstaan as die jaar toe Hoërskool Garsfontein ’n byna ongekende tweekuns behaal het deur as Noordvaal kampioene gekroon te word op beide die rugby- en krieketveld.
Xander Venter en sy tien makkers het Saterdag die Fain Noordvaal krieket-titel (eendag/50 beurte) ingepalm toe hulle Hoërskool Dr. Malan van Meyerton in die eindstryd met nege paaltjies geklop het.
Saterdag se eindstryd het op ’n neutrale veld, dié van die St Albans College in Lynnwood Glen, Pretoria, plaasgevind.
Venter was een van die span se groot uitblinkers, nie net as bouler nie, maar ook weens sy leierskap op die veld. Nadat hy die loot gewen het, het hy verkies om eerste veldwerk toe doen en die span uit Midvaal is dus ingestuur om eerste te kolf.
Daarna het Venter en sy mede boulers losgetrek en die kolwers van Dr. Malan geterroriseer met puik boulwerk.
Die Garise kaptein was loshande die beste bouler. Hy het vier belangrike paaltjies geneem in sy toegelate tien boulbeurte, terwyl hy in die proses slegs 17 lopies afgestaan het.
Verlede week se boul-held van die Ysbere, Jared Carr, het ook weer sy deel bygedra en kon na afloop van Dr. Malan se beurt self spog met ’n ontleding van 2/34.
Uiteindelik is die moedige manne van Midvaal almal uitgehaal vir net 154 lopies en dit was duidelik dat hule met ’n byna bomenslike poging sou moes vorendag kom as hulle die Ysbere, wat oor verskeie skitterende kolwers beskik, sou wou verhoed om teen ’n koers van minder as 3.1 per boulbeurt te kolf.
Hul enigste hoop sou wees om vinnig van die Garsies se top orde ontslae te raak. Hiervoor was die Ysbere se openingskolwers, Reuben van Zyl (85) en Wikus du Preez (51*) nie te vinde nie. Hulle het met ’n stewige vennootskap van 119 lopies die fondament gelê wat sou verseker dat die boulers van Dr Malan daarna beslis ’n wonderwerk nodig sou hê nog die kastaiings uit die vuur te krap.
Van Zyl, wat verlede week ook sy span se top kolwer was, het sy 85 lopies van net 58 balle aangeteken en in die proses het hy 12 viere en ’n ses gemoker.
Uiteindelik het die Garsies net 22 beurte nodig gehad om die wen-totaal van 155 lopies te behaal, wat hul oorwinning soveel meer merkwaardig maak.
Met hierdie oorwinning het die Garsies se Ysbere ’n beker-droogte van sewe jaar gebreek, nadat hulle die titel in 2018 laas kon wen. ’n Paar van die spelers in die Ysbere se span het egter ook die Noordvaal titel in 2023 in die o.15 liga gewen.
Die krieket triomf is ook die perfekte afskeidsgeskenk vir Garsies se hoof, Leon Bantjes, wat aan die einde van die jaar met pensioen aftree. As bonus tot al die hoogtepunte wat hy in sy era as hoof van Garsfontein bereik het, sal hy kan spog dat hy die skool by hierdie besondere mylpaal groet in die jaar wat hulle as rugby- en krieket kampioene van die Noordvaal streek gekroon is.
Sien nog foto’s op Rekord se webwerf.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
























