Klofies en Parkies ontmoet wéér in NWU Sportreeks eindstryd, Affies kry pak op hul tuisveld
Terwyl Menlopark en Waterkloof vir ’n derde agtereenvolgende jaar sake sal uitspook vir die rugby-trofee in die NWU Skolesport reeks, het Affies heelwat huiswerk om te doen om hul seisoen te probeer red, ná ’n groot nederlaag teen een van hul ou vyande uit die Wes-Kaap.
Die eerste rugbyspanne van Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof pak mekaar eerskomende Saterdag vir ’n derde jaar agtereenvolgens in die eindstryd van die NWU Skolesport reeks, nadat dié twee spanne albei met groot oorwinnings in die onderskeie halfeindstryde deurgedring het na die finale skouspel.
In 2024 was die Klofies die kampioen toe hulle hul bure van anderkant die N1 snelweg in die eindstryd van hierdie toernooi geklop het en verlede seisoen het die twee skole die trofee gedeel toe die telling met 23-elk gelykop geëindig het in die eindstryd.
– Menlopark het met nog ’n kandidaat uit Pretoria, die Hoërskool Oos-Moot, swaarde gekruis in hul halfeindstryd.
Dit was egter baie gou duidelik dat die Parkies te veel skietgoed het vir die Oosies. Menlo se pak voorspelers het van die afskop af oorheers en binne drie minute is hulle ná ’n dryfbeweging vanaf ’n lynstaan oor die doellyn om hul rekening te open.
Daarna het die drieë periodiek gekom en met die rustyd sirene wat reeds geloei het, is die Parkies vir die vyfde keer oor die doellyn om met die omdraaislag reeds 33-0 voor te loop.
Oos-Moot het nie gaan lê nie en kort na rustyd het hulle die eerste punte van die tweede helfte aangeteken met ’n mooi drie.

Vyf onbeantwoorde drieë vir Menlopark het egter die telbord laat groei en Oos-Moot kon slegs in die laaste minuut weer die doellyn haal om die eindtelling op 64-12 te staan te bring.
– Die ander halfeindstryd tussen Waterkloof en Hoërskool Nelspruit was minder eensydig, hoewel die Pretorianers gemaklik gewen het.
Klofies het net twee minute nodig gehad om hul eerste drie te druk, ook vanaf ’n lynstaan beweging. Kort daarna het Nelspruit egter dieselfde gedoen om hul rekening te open.
Dié patroon is herhaal met ’n drie aan elke span, voordat Waterkloof die inisiatief oorgeneem het om vier keer te druk om die gaping op die telbord te rek. ’n Drie kort voor rudtsyd het die telling halfpad deur die wedstryd op 38-15 te staan gebring.
Nadat die tweede helfte net soos die eerste skof begin het met elke span wat ’n kans gekry het om agter die doellyn te kuier, het die Klofies weer die gaping gerek met nog vier drieë.
Nelspruit het in die laaste vyf minute twee troosdrieë gedruk, maar die koeël was toe lankal deur die kerk en Waterkloof het met 71-32 as oorwinnaars van die veld gestap.
– In Pretoria het die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) ’n stewige loesing op die lyf geloop toe hulle op hul tuisveld met 24-51 deur Paarl Gimnasium oorrompel is.
Dit was reeds Affies se derde nederlaag in sewe wedstryde vanjaar en die Wit Bulle sal hul sokkies moet optrek as hulle ‘n ramp-seisoen wil verhoed, aangesien daar ‘n paar baie moeilike wedstryde voorlê tot op 8 Augustus, wanneer hulle hul laaste wedstryd teen Pretoria Boys High sal speel.
Affies het redelik goed begin en die eerste kwartier van die wedstryd was ’n spreekwoordelike armdruk stryd, maar die seuns uit die Wes-Kaap het stelselmatig die druk op die tuisspan verhoog.
Die besoekers se heelagter, Thomas Saunders, het die ys gebreek met puik lopie van 40 meter waarmee hy die Affies agterlyn met vaart geklop het om te druk.


Foto: Charmaine Visser


’n Vlymskerp breeksplag deur Affies se skrumskakel, Fourie Robberts, het sake gelyk gemaak. Kort daarna het Affies se lot gedraai toe hul senter, Juan Ferreiera, ’n geelkaart ontvang het en ’n strafdrie aan die besoekers toegeken is, nadat Ferreira ’n bal afgeklap het met Paarl Gimnasium op die aanval.
Affies het egter met 14 man teruggeslaan via ’n puik drie deur regtervleuel Dandré Brink, maar ’n drie en ’n strafdoel deur die Kapenaars het die rustydtelling op 12-22 in hul guns laat staan.
Met nog ’n drie ná skitterende hantering deur hul agterlyn het Paarl Gimnasium die druk vroeg in die tweede skof laat opbou. Hulle het egter nie hul greep verslap nie en met kliniese spel, gepaard met gebrekkige verdediging van Affies, het die besoekers vyf keer gaan druk om die uitslag reeds tien minute voor die eindfluitjie bo enige twyfel te stel.
Affies se senter, Estian Marx, het in daardie laaste tien minute twee troosdrieë gaan druk, maar teen daardie tyd het die seuns uit die Boland reeds hul voet van die pedaal gehaal.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
