Nuwe era breek aan vir Reitz Stoeiklub in hul 90ste bestaansjaar
Een van die bekendste en suksesvolste stoeiklubs in Pretoria, die Reitz Stoeiklub in die Moot, vier vanjaar hul 90ste bestaansjaar en hulle skop dié feesjaar eerskomende naweek af met die die Reitz 90ste Ope stoeitoernooi in die Noord-Gauteng stoeisaal in Pretoria.
Die jaar 2026 is in meer as een opsig ’n baie besondere jaar vir die bekende Reitz Stoeiklub in die Moot van Pretoria.
Dié klub word nie net vanjaar 90 jaar oud nie, maar sal ook binnekort trek na hul splinternuwe tuiste.
Intussen bied die klub eerskomende Saterdag (16 Mei) ’n groot kampioenskap aan, wat deel sal vorm van hul 90ste verjaardagvierings.
Hierdie kampioenskap, wat bekend sal staan as die Reitz 90ste Ope, word aangebied as ’n gedenktoernooi in die saal van Noord-Gauteng Stoei in Menlopark en skop Saterdag om 07:30 af, maar stoeiers sal reeds vanaf 06:30 begin inweeg.

Foto: Verskaf
Stoeiers sal van oral oor Suid-Afrika reis om aan die kampioenskap deel te neem en ’n baie besondere gedenk-medalje sal aan die wenners van afdelings tydens die toernooi oorhandig word.
Vir baie jare was die Reitz stoeiklub gesetel in die bekende Reitz Stoeisaal in Adcockstraat, Gezina. Dié saal is intussen verkoop en die klub het tydelik na die saal van die Hervormde Kerk op die hoek van 27ste laan en Ben Swartstraat in die Moot verhuis.
Intussen word daar hard gewerskaf om die klub se toekomstige permanente tuiste – ’n splinternuwe saal – op die terrein van Hoërskool Oos-Moot in Waverley te voltooi. Die plan is om op 1 Junie vanjaar die nuwe saal in gebruik te neem.

Foto: Verskaf
– Die legendariese Johnny Reitz en ’n vriend het die Capital Park Amateur Stoeiklub in 1936 in die Moot gestig. Sowat 22 jaar later, in 1958, is die naam van die klub verander en dit het die Reitz Stoeiklub geword. Oor die afgelope 90 jaar het dié klub landwyd bekend geword weens die prestasies van sy lede.
Nadat die klub in die beginjare ’n paar keer in die Moot-gebied rondgetrek het en op ’n stadium selfs by Johnny Reitz se huis in Voortrekkersweg gesetel was, het hulle later na die bekende gebou in Adcockstraat, Gezina, verhuis waar die JC Reitz Loodgieterswerke ook gesetel was.
Dié saal was aanvanklik deel van ’n enkelverdieping gebou, maar toe die klub later groter groei, is daar in 1967 besluit om die gebou se dak te verwyder en ’n betonblad bo-op die eerste vloer te gooi, waarop die bekende Reitz stoeisaal gebou is. Dié saal was vir dekades die klub se tuiste totdat die gebou onlangs verkoop is.

Foto: Verskaf
Reitz-stoeiklub is nie net vir dekades al een van die leidende klubs in Noord-Gauteng (voorheen Noord-Transvaal) nie, maar het ook al verskeie Springbokke (later Proteas) opgelewer. Dié klub het die fokuspunt van stoei in die Moot geword, terwyl die Reitz familie se besondere band met die klub ook baie uniek is.
Wyle oom Johnny se twee seuns, Calie en Kosie, was die eerste stoeiers van die klub wat nasionale kleure kon verwerf. Oom Calie was die klub se eerste Springbok wat dié prestasie reeds in 1948 behaal het. Hy word daardie jaar ook die eerste lid van die Reitz Stoeiklub om aan ’n Olimpiese Spele deel te neem toe hy by dié skouspel in Londen in aksie was.
In 1962 het Johnny en sy seun Kosie die besondere prestasie behaal om deel van dieselfde Springbokspan te wees. Johnny is daardie jaar as bestuurder aangewys van die span wat in Spanje gaan stoei het, terwyl Kosie een van die stoeiers was.
Intussen het vier geslagte van die Reitz familie hul nasionale kleure as lede van dié klub verwerf. Barco Badenhorst, agter-kleinseun van Johnny Reiz, wat in 2015 vir die nasionale span gekies is om in Egipte aan die Afrika kampioenskappe deel te neem, het die vierde geslag in die stoeifamilie geword om die groen en goud van Suid-Afrika te dra.

Foto: Verskaf
Christo Reitz, wat steeds by die klub betrokke is, het in 1992 ook geskiedenis gemaak vir die klub. Hy is daardie jaar gekies as beampte van die eerste nasionale span wat in die nuwe era, na Suid-Afrika se hertoelating tot internasionale deelname, by die Afrika kampioenskap in Marokko gaan stoei het.
Dit was egter nie net die Reitz familie wat in die kleure van dié klub presteer het nie. Die Reitz stoeiklub het oor 90 jaar verskeie provinsiale en nasionale kampioene opgelewer en spog deesdae met ’n hele muur vol geraamde foto’s van stoeiers wat as lede van die klub hul nasionale kleure verwerf het. Trouens, die klub het in die eerste 50 jaar van sy bestaan ’n indrukwekkende 27 Springbokke opgelewer.
In 2003 het ’n lid van die Reitz stoeiklub, Shaun Williams, die eerste stoeier uit hul geledere geword om in die post-isolasie era deel te word van die nasionale span wat aan ’n Olimpiese Spele kon deelneem.
Die klub het ook verskeie top Meesters-stoeiers opgelewer, waaronder Duane van Staden (2016) en Monty de Beer (2017 en 2018) wat albei as Meesters wêreldkampioene gekroon is.
Besoek gerus die klub se webwerf by www.reitzwrestling.co.za of hul Facebook blad (Reitz Stoeiklub) vir meer inligting of skakel Christo Reitz by 082-322-2392.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
