Local sportSchool sportSport

Garsies klop Rustenburg, Parkies val vas in Krugersdorp

Die meeste deelnemers in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi is nou reeds halfpad deur hul ligabepalings en die voorlopers het ’n stewige gaping tussen hulle en die res op die punteleer opgebou.

Die twee voorloper-skole in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Monument, het albei die afgelope naweek hul posisies op die punteleer versterk met groot oorwinnings.

– Hoërskool Garsfontein is steeds onoorwonne én bo aan die punteleer, nadat hulle die omgekrapte span van Hoërskool Rustenburg op hul tuisveld in Pretoria met 57-28 kafgedraf het.

Hoewel die Rusties nog nie vanjaar ’n wedstryd in dié toernooi kon wen nie, beteken dit nie dat hulle nie gevaarlik op die aanval kan wees nie. Dié feit word bewys deur die vier bonuspunte wat hulle reeds tot dusver verdien het ten spyte van hul wendroogte.

Die span uit Noordwes het van die eerste afskop af verwoed ingeklim om die Garsie Bere op hul tuisveld te probeer intimideer. Die Rusties se aanslag het inderdaad daartoe gelei dat hulle binne drie minute reeds die eerste punte van die wedstryd kon aanteken toe hul voorspelers oor die doellyn gedryf het.

Nog drie minute later het die Bere egter hul rekening met ’n skouspelagtige drie deur heelagter Drewyn Baron geopen.

Goeie skrumwerk deur Rustenburg het hul tweede drie deur binnesenter, Liam Bosshof, moontlik gemaak en ses minute later het die besoekers die oë laat rek met ’n onderskepdrie deur regtervleuel Dian Huisamen, wat aan hulle ’n 14-punt voorsprong besorg het.

Die Garsies het weer teruggeveg met ’n drie deur linkervleuel Neil de Kock, maar sekondes voor rustyd het die Noordwesters vir ’n vierde keer die doellyn oorgesteek om met 28-12 voor te loop.

Soos die Garsies se gewoonte geword het, het hulle vroeg in die tweede skof hul snelrat gevind en daarna het die drieë met reëlmaat gevolg. Rustenburg het moedig probeer, maar die tuisspan was eenvoudig te sterk, vinnig en vaardig vir hul teenstanders, wat net nie al die gate kon toestop nie.

Die Garsie Bere het uiteindelik nege keer agter die doellyn gaan kuier om hul tweede agtereenvolgende vyftigtal aan te teken.

– In Krugersdorp het Die Hoërskool Menlopark hul vasgeloop teen ’n verwoede aanslag van Monument en die Parkies se veldtog is verder geknou toe hulle ’n reuse pakslae van 24-82 by die Wesranders gekry het.

Monnas het sommer vroeg die voortou geneem met twee drieë, waarna die besoekers kans gekry het om hul rekening te open met senter Danie Bothma se drie.

Teen rustyd het Monnas egter reeds ses keer gaan druk en met 42-7 voorgeloop. In die tweede skof was die patroon basies dieselfde, met die uitsondering dat Menlopark dié keer darem self drie keer die doellyn kon haal om hul bonuspunt te verdien.

Tegnies is die Parkies ná net een oorwinning in vyf wedstryde nog nie uit die wedloop na die halfeindstryde nie, maar behalwe vir die feit dat hulle vorentoe volpunte in elke wedstryd sal moet verdien, is hul lot waarskynlik nie meer net in hul eie hande nie.

– Hoërskool Waterkloof het die afgelope naweek ’n loslootjie gehad, maar is ten spyte daarvan steeds derde op die punteleer, net vier punte agter Monnas.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button