Local sportSport

Naka Bulle terug op die wenpad, Harlequins skok Tuks

Met twee naweke van aksie oor in die ligafase van die Sanlam Carltonbeker toernooi kan enige van die top vier spanne nog in die boonste twee posisies op die punteleer eindig om uiteindelik die halfeindstryde aan te bied.

Die stryd om die twee top posisies op punteleer van die Sanlam Carltonbeker klubrugby toernooi, wat aan dié twee spanne die voorreg sal gee om die halfeindstryde op 22 Augustus aan te bied, sal waarskynlik eers in die laaste ligabepalings op 8 Augustus afgehandel word.

Anders as die afgelope paar seisoene waar die fokus eerder was op die onderkant van die punteleer en die wedloop om wel vir die halfeindstryde te kwalifiseer, heers daar vanjaar ’n ander geveg tussen vier kandidate wat reeds gekwalifiseer het, maar veg om in die boonste twee plekke te eindig.

Ná die afgelope naweek se wedstryde is daar slegs twee punte verskil tussen die spanne wat eerste en vierde op die punteleer lê en teoreties kan enige twee van die vier top kandidate nog as gashere vir die halfeindstryde optree.

– Die verrassing van die afgelope naweek het in Tuks se LC de Villiers stadion plaasgevind toe Harlequins die studente teen alle verwagting met 31-28 geklop het.

Gary Botha se invloed op Harlequins is blykaar soos stadige gif. Sedert Botha die leisels as afriter by dié tradisieryke klub in Groenkloof oorgeneem het, was hul vordering stelselmatig, maar ongetwyfeld.

Die Blokkiestruie is besig om in ’n baie gedugte span te ontwikkel, wat Saterdag bewys het dat hulle nou in staat is om enige teenstander in hierdie liga te klop.

’n Mens weet nie watter aspek van Quins se spel is die mees indrukwekkende nie – hul vordering en verbetering op tegniese gebied, of hul karakter en verbeterde kohesie, wat hulle Saterdag in staat gestel het om terug te veg toe dit vroeg in die wedstryd gelyk het of Tuks maklik sou wen.

Tuks het na vyftien minute se aksie reeds twee keer gaan druk om met 14-0 voor te loop, maar Harlequins kon daarna die gaping tydelik kleiner maak met ’n drie en ’n strafdoel.

Na nog twee drieë kon die studente met ’n voorsprong van 28-10 gaan water drink en dit sou moeilik wees om op daardie stadium ’n toeskouer te vind wat sou glo dat Tuks nie weer ’n enkele punt sou aanteken in die wedstryd nie.

Wat Botha ookal vir sy manne gesê het teen rustyd, het die regte uitwerking gehad. Regtervleuel Henrico Oranje het die terugvegpoging begin met sy drie, waarvoor hy vir 45 meter onder die verdedigers uitgehardloop het.

Daarna was dit skrumskakel Louis Venter se beurt om te druk, ná ’n breekslag om ’n losskrum, waartydens hy verskeie teenstanders op pad doellyn toe geklop het.

Die wedstryd het spannend geëindig met Quins wat verwoed aangeval het en die studente wat moes keer vir al wat hulle werd was. Uiteindelik het die manne van Groenkloof na ’n horde fases in die rooi gebied die gaping gevind en die plaasvervanger agtsteman, Siya Shoba, kon oorduik vir die wendrie.

– In die Moot het Naka Bulle op hul tuisveld weer hul veldtog op koers gekry ná verlede week se verrassende nederlaag teen Centurion. Bielie Grundelingh en sy makkers het nege drieë ingeryg om die Grizzlies van Tuine met 61-38 te klop en daarmee weer die eerste plek op die punteleer van die kompetisie in te neem.

Naka Bulle se bonuspunt drie is reeds ’n kwartier voor rustyd gedruk, terwyl hulle teen die omdraaislag met 26-7 voorgeloop het.

Met hardebaarde onder die vaste vyf soos Juan van der Westhuizen en Cassie Bezuidenhout terug in die span, nadat hulle verlede week se wedstryd teen Centurion misgeloop het, kon die manne van die Moot voorlangs weer op al hul silinders vuur. Grizzlies het gevolglik geen antwoord gehad vir Naka Bulle se dryfwerk vanaf lynstane in die rooi gebied nie.

Hoewel die manne van Tuine reeds uit die wedloop om ’n plek in die halfeindrondte van die toernooi is, het hulle steeds by hul kenmerkende wedstrydplan gehou deur aanvallende rugby met die bal in die hand te speel. Dit het hulle in staat gestel om, soos gewoonlik, van die wedstryd ’n skouspel te maak en ses keer die doellyn oor te steek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button