Garsies verseker tuis halfeindstryd in Noordvaal toernooi, Parkies kan nog halfeindstryd haal
Na ’n naweek van drama in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby kompetisie kan al drie die deelnemende skole van Pretoria teoreties nog kwalifiseer vir die halfeindstryde, wat op 15 Augustus afgehandel sal word.
Terwyl Hoërskool Garsfontein die afgelope naweek seker gemaak het dat hulle vir ’n tuis halfeindstryd in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi kwalifiseer, het Hoërskool Waterkloof se verrassende tuis-nederlaag teen Helpmekaar Kollege veroorsaak dat hulle nie meer onder die top twee kan eindig nie.
Intussen het Die Hoërskool Menlopark, ten spyte van die drama waarmee hul wedstryd teen Hoërskool Dr. EG Jansen geëindig het, seker gemaak dat die agterdeur nog op ’n skrefie oop is vir hul eie kans om oor twee weke die derde Pretoria kandidaat in die halfeindrondte te wees.
– In Middelburg was die tuisspan, Hoërskool Middelburg, se sterte vroeg reeds in die lug tydens hul wedstryd teen die Garsie Bere, nadat hulle binne drie minute ná die afskop reeds die doellyn kon oorsteek vir die eerste drie van die wedstryd.
Ongelukkig vir die seuns van Mpumalanga sou dit die enigste punte vir hulle in die wedstryd wees. Hulle moes daarna toekyk hoe die besoekers stelselmatig beheer oor die wedstryd oorneem. Nadat hul SA skole flank, Kwagga van der Vyfer, wat Saterdag as haker diens gedoen het, die Garsies se rekening geopen het, was daar nie meer keer aan die Pretorianers nie.
Regtervleuel Drewyn Baron het Garsfontein se bonuspunt-drie reeds kort voor rustyd gaan druk. In die tweede skof het Middelburg hard probeer walgooi, maar die besoekers kon daarin slaag om nog drie keer die doellyn te haal om uiteindelik met 45-7 te wen.






– Waterkloof het hul kans om onder die top twee op die punteleer te eindig verbeur toe hulle Saterdag op hul tuisveld met 34-38 teen Helpmekaar Kollege verloor het.
Meyer Pretorius, kaptein en buitesenter van Waterkloof, het die telbord na elf minute se spel aan die gang gekry toe hy sowat 90m ver moes nael vir sy drie, nadat hy ’n aangee van die besoekers onderskep het.
Na ’n taai eerste helfte was daar min te kies tussen die twee spanne, met die Klofies wat met 13-12 voorgeloop het.
In die tweede skof het die wedstryd vlam gevat met Helpies wat die voortou geeneem het ná hul derde drie. Kort daarna het hulle die bonuspunt drie gedruk, wat die druk teen die tuisspan laat opbou het.
Halfpad deur die tweede helfte het die Blou Tornado weer die voortou geneem ná twee drieë, maar toe die Johannesburgers se agtsteman, Ruann Bester, twee minute voor die eindfluitjie in die hoek oorduik ná ’n lopie van 30 meter, was die skrif aan die muur vir die tuisspan.
Die Klofies het ten minste karakter en deursettingsvermoë gewys deur aan te hou tot die bitter einde en daarvoor is hulle in die doodsnikke van die wedstryd met ’n vierde drie beloon, wat inderdaad twee bonuspunte werd was.







– Menlopark kom eerskomende naweek voor ’n groot uitdaging te staan wanneer hulle die omgekrapte span van Hoërskool Rustenburg op laasgenoemde se tuisveld in Noordwes pak in hul laaste ligebepaling van die seisoen.
Die Parkies het die afgelope naweek voortgebou op hul goeie vertoning teen Noordheuwel, toe hulle Dr. EG Jansen op hul tuisveld in Pretoria aangedurf het.
Menlo het veral voorlangs die pap dik aangemaak en teen rustyd was hulle nie net met 24-5 voor nie, maar die bonuspunt vir vier drieë was ook reeds in die sakkie.
Na die omdraaislag het Menlopark vroeg in die tweede helfte weer twee keer gedruk voordat die nou reeds bekende omstrede voorval plaasgevind het wat veroorsaak het dat die skeidsregter die wedstryd summier beëindig het.
Menlopark het uiteindleik met 36-5 gewen
* Helpmekaar het hul ligabepalings afgehandel en lê tans met 21 ligapunte vyfde op die punteleer. Hulle kan dus nie meer vir die halfeindrondte kwalifiseer nie.
Menlopark, wat tans met 18 ligapunte in die sesde plek is, sal hoop dat Middelburg eerskomende naweek verras deur Noordheuwel (tans vierde met 21 ligapunte), op laasgenoemde se tuisveld aan die Wes-Rand te klop én te verhoed dat die Nories meer as een bonudpunt kry. Dit sal die agterdeur vir Menlopark oopskop, wat dan op hul beurt ’n bonuspunt oorwinning in ’n weg-wedstryd teen Rustenburg sal moet behaal om in die vierde plek in te skuif.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
