Local sportSport

Amerikaanse stoeiers besoek Reitz stoeiklub vir gesamentlike oefening op vooraand van Johnnie Reitz Big-5 toernooi

’n Besoekende stoeispan uit Amerika, wat hierdie naweek ook aan die gewilde Johnnie Reitz Big-5 toernooi in Pretoria gaan deelneem, het vroeër hierdie week die Reitz stoeiklub se nuwe fasiliteit in die Moot van Pretoria besoek om aan ’n gesamentlike oefening deel te neem.

Eerskomende naweek is dit weer tyd vir Suid-Afrika se grootste amateur stoeitoernooi, die Johnnie Reitz Big-5, wat jaarliks deur Stoei Gauteng-Noord in die Rembrandt-saal op die Tuks sportkampus in Pretoria aangebied word.

By dié unieke toernooi is daar jaarliks van die mees gesogte medaljes in dié sport op die spel. Elke jaar word een van Afrika se Groot 5 diere uitgebeeld op die agterkant van die medaljes en elke stoeier streef daarna om ’n vol stel van hierdie medaljes met al vyf dié gesogte diere se afbeelding daaroop te verdien.

Verlede jaar het ’n rekordgetal van meer as 1500 stoeiers van 62 klubs in Suid-Afrika, asook ’n span uit Namibië vir die toernooi ingeskryf. Daar is toe besluit om die toernooi vanjaar oor twee dae aan te bied om die logistiek rondom die aksie op die stoeimatte makliker te hanteer. Die Johnnie Reitz Big-5 toernooi sal dus vanjaar op 8 en 9 Augustus plaasvind.

Die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese stoeier, Shaun Williams (regs), wat in die Moot grootgeword het en lid van die Reitz stoeiklub was, maar deesdae in Amerika woon en werk, het Dinsdagaand die leiding geneem tydens ’n gesamentlke oefening van sy Amerikaanse toerspan en lede van dié klub. Hier demonstreer hy ’n spesifieke oefening saam met een van sy Amerikaanse stoeiers.
Foto: Koos Venter

Namibië se deelname verlede jaar is nie uniek nie en dié toernooi het jare reeds internasionale status met spanne uit Amerika, Egipte, Marokko en ook ander lande wat in die verlede na Suid-Afrika gereis het om deel van die aksie by die Johnnie Reitz Big-5 toernooi te wees.

Vanjaar is geen uitsondering nie en stoeiers van Equador, Oekraïne en ’n gekombineerde toerspan wat bestaan uit stoeiers vanuit die state Washington en Oregon in Amerika, sal by die toernooi in aksie wees.

Dié Amerikaanse span van 14 stoeiers en enkele bestuurslede is deel van ’n stoeiprogram wat as die Northwest Cultural Exchange program bekendstaan.

Die besoekende spanne van oorsee het reeds ’n week voor die toernooi in Suid-Afrika aangekom en was die afgelope dae betrokke by ’n stoei-kliniek wat by die Camp Discovery sportfasiliteit Noord-oos van Pretoria aangebied is.

Klel Carson, een van die afrigters wat saam met die Amerikaanse span na Suid-Afrika getoer het, wys trots hul spesiale hemp wat vir dié toer gemaak is.
Foto: Koos Venter

Een van die afrigters van die Amerikaanse span is die 49-jarige Shaun Williams, wat in die Moot in Pretoria grootgeword het en vir baie jare by die Reitz stoeiklub betrokke was. Williams het op sy dag medaljes by die Afrika Spele en die 2002 Statebondspele vir Suid-Afrika gewen, terwyl hy ook aan die Olimpiese Spele in 2004 in Athene, Griekeland, deelgeneem het.

Dié gesoute stoeier is deesdae gesetel in die staat Washington in Amerika en rig stoei af by die Central Valley High School in Spokane Valley aan die oosgrens van dié staat, waar hy ook ’n onderwyser is.

Williams het die afgelope Dinsdagaand saam met sy Amerikaanse span sy ou klub in die Moot van Pretoria besoek om aan ’n gemeenskaplike oefening met die Reitz stoeiers deel te neem.

Dié oefening het plaasgevind in die Reitz stoeiklub se spoggerige nuwe klub-fasiliteit op die terrein van die Hoërskool Oos-Moot. Dié ruim stoeisaal word volgende maand ampetlik ingewy as Reitz se nuwe hoofkwartier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button