Local sportSchool sportSport

Uitstaande aksie by TUT Top-12 skole-atletiek byeenkoms

Met die liga-kampioene in wintersportsoorte soos rugby, netbal en hokkie wat nou almal gekroon is, skuif die fokus op die skolesport front weer terug na atletiek en die eerste aksie van die nuwe seisoen het reeds die afgelope naweek by die TUT Top-12 byeenkoms in Pretoria plaasgevind.

Dis lente in Pretoria en daarmee saam het atlete van alle ouderdomme weer begin terugkeer na die atletiekbaan.

Die eerste belangrike skole atletiek-geleentheid van die seisoen, die TUT Top 12 byeenkoms, het die afgelope naweek op die Pilditch baan plaasgevind. As atlete se prestasies by dié byeenkoms ’n vroeë aanduiding is, lyk dit of atletiekliefhebbers weer kan uitsien na kookwater skole-atletiek in die seisoen wat voorlê.

Slegs atlete in die ouderdomsgroepe o.14 tot o.17 het aan die byeenkoms deelgeneem, wat beteken dat matriekleerlinge nie teenwoordig was nie.

Atletiekspanne is in twee groepe verdeel tydens die byeenkoms, met die A-afdeling wat – met enkele uitsonderings – hoofsaaklik uit atletiekspanne van skole in Pretoria se A-bond bestaan het. Sommige skole in hierdie afdeling het meer as een span ingeskryf.

Kgothatso Galane van Curro Hazeldean het die hoogspring vir seuns o.16 met ‘n verstommende nuwe rekord hoogte van 2,05m gewen. Dié hoogte is 980 punte op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel werd.
Foto: Frans Lombard

In die B-afdeling het ander Pretoria-skole deelgeneem, asook enkele skole uit ander dele van Gauteng én provinsies soos Mpumalanga, Noordwes en Limpopo.

Die Hoërskool Menlopark se Blou-span het skoonskip gemaak deur beide die seuns- en dogters kompetisies in die A-afdeling te wen, terwyl hulle uiteraard ook die algemene spankompetisie (2756 punte) gewen het.  Hoërskool Waterkloof se Blou-span het in die seuns-kompetisie én in die algehele spankompetisie tweede (2457 punte) geëindig, terwyl Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) in die dogters kompetise tweede was.

Curro Hazeldean (seuns) en Waterkloof Blou (dogters) was derde in die afsonderlike kompetisies vir seuns en dogters, terwyl Hoërskool Montana se span algeheel derde (2300 punte) geëindiug het.

In die spankompetisie (A-afdeling) het Curro Hazeldean (2165 punte) vierde geëindig, gevolg deur Hoërskool Zwartkop (2120 punte), Hoërskool Garsfontein Turquoise-span (1821 punte), Menlopark Wit-span (1365 punte), Prestige College (1287 punte), Waterkloof Geelspan (936 punte), Sutherland High School (772 punte), Garsfontein Witspan (519 punte), Montana B-span (370 punte), Menlopark Rooispan (313 punte) en Curro Hazeldean Witspan (225 punte).

Hoërskool Oos-Moot (824 punte) het die B-afdeling gewen, terwyl hul dogters ook eerste in hul kompetisie geëindig het. In die seuns-kompetisie het Hoërskool Akasia gewen.

Die Tuks Sport High School (753 punte) was tweede in die spankompetisie in die B-afdeling, terwyl Midstream College (739 punte) derde geëindig het. Volledige span-uitslae in dié afdeling, waarby 27 spanne betrokke was, asook al die individuele toekenning, sal op Rekord se webwerf beskikbaar wees.

Volgens die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel wat gebruik is tydens die byeenkoms is enige prestasie wat tussen 960-1000 punte werd is, van internasionale standaard.

’n Verstommende 35 byeenkomsrekords is tydens die naweek se aksie verbeter, terwyl nege atlete daarin kon slaag om volpunte op die APE tabel te verdien. Dit is voorts interessant om op te merk dat agt van die nege atlete wat volpunte verdien het, dit in velditems kon vermag. Dié statistiek sê dalk iets oor die verskillende fases van voorbereiding waarin baan- en veldatlete tans is.

– Eerskomende naweek word die noordelike uitdun van die nasionale Curro Podium skole-atletiek reeks ook by die Pilditch baan in die weste van Pretoria aangebied.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button