Local sportSport

Ses skolerugby spelers van Pretoria haal Virseker Noordvaal se 2026 droomspan

Ses spelers van Pretoria skole wat vanjaar deelgeneem het aan die Virseker Noordvaal Cup skolerugby toernooi is gekies as deel van die “droomspan”, wat die afgelope naweek tydens dié toernooi se amptelike prysuitdelingsgeleentheid aangewys is.

Hoewel Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan vanjaar teen alle verwagting in die halfeindstryd van die Virseker Noordvaal Cup se Beker-afdeling teen hul bure, Hoërskool Waterkloof, vasgeval het, is dié span se oorheersing in die ligafase van die kompetisie goed gereflekteer in die “droomspan” wat die afgelope naweek aangewys is.

Die bekendmaking van hierdie span, bestaande uit spelers in die top Beker-afdeling van die Virseker Noordvaal Cup, was die hoogtepunt tydens die jaarlikse prysuitdelingsfunksie van die kompetisie.

Hoërskool Momument van Krugersdorp, wat die uiteindelike kampioen van die top liga was, het –soos Garsfontein – ook vyf spelers in dié “droomspan”, terwyl Hoërskool Noordheuwel (2), Hoërskool Waterkloof (1), Hoërskool Rustenburg (1) en Hoërskool Dr. EG Jansen (1) die res van die spelers vir hierdie span opgelewer het.

Die vyf Garsies in die span is is Stefan “Kwagga” van der Vyver (haker), Ruben Lombard (vaskop stut), JJ Fourie (slot), Drewyn Baron (heelagter) en Yuvrah George (vleuel). Stefan Pieters, flank van Waterkloof, is die sesde speler uit Pretoria wat die span kon haal.

George het ook die prys vir “Drie van die Jaar” ontvang vir sy uitstekende drie wat hy in ’n wedstryd teen Hoërskool Noordheuwel gedruk het. Hy het dié drie gedruk na ’n lopie van 100 meter, waartydens hy letterlik vir die hele agterlyn van Noordheuwel hakskene gewys het, nadat hy die bal op sy eie doellyn ontvang het.

Twee plaaslike afrigters, Dawid Gouws van Hoërskool Zwartkop en Christiaan Burger van Hoërskool Centurion het spesiale toekennings ontvang. Beide skole se eerstespanne het hul onderskeie ligas gewen.

Stefan Pieters, flank van Waterkloof, is gekies as deel van die “Droomspan” uit die Beker-afdeling in die 2026 Virseker Noordvaal Cup, wat die afgelope naweek by dié toernooi se prysuitdelingsfuknsie aangewys is.
Foto: Charmaine Visser

Henry Verster van Midstream College is ook vereer vir sy vyf jaar diens as administrateur op die raad van die Noordvaal Hoërskole Rugbykomitee.

Dit was nie net die pryswenners wat aandag getrek het tydens hierdie prysuitdelingsgeleentheid nie. Statistiek wat tydens die funskie bekendgemaak is oor dié toernooi gedurende die afgelope seisoen het weer bewys hoe groot die profiel van skolerugby in Suid-Afrika geword het.

Volgens amptelike statistiek het meer mense na wedstryde van hierdie toernooi oor TV en SuperSport Skole se stroomdienste gekyk as die kykers wat ’n kompetisie soos die Verenigde Rugby Kampioenskap kon lok. Slegs Springbokrugby is meer gewild ten opsigte van plaaslike TV gehore.

Slegs die Beker-afdeling, die top liga in die Virseker Noordvaal Cup toernooi, het 187000 toeskouers gelok wat deur die skole se hekke gevloei het om na wedstryde te kyk. By die eindstryd tussen Momument en Waterkloof in Krugersdorp het sowat 15000 toeskouers om die rugbyveld saamgepak.

Hierdie statistiek verklaar ook die waarde van skolerugby as kommersiële produk. Volgens die maatskappy Provantage, wat ’n ontleding van die seisoen ten opsigte van hierdie toernooi gedoen het, kon borge vanjaar sowat R52 miljoen se waarde uit blootstelling tydens die aksie van die Virseker Noordvaal Cup kry.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button