School sportSport

Waterkloof klop Affies oortuigend in groot skole-derby

Meer as 10 000 ondersteuners van twee van Pretoria se top skolerugbyspanne, Hoërskool Waterkloof en Afrikaanse Hoër Seunsskool, het Saterdag by eersgenoemde se rugbyveld opgedaag om die jaarlikse derby tussen die twee rugbykragte te sien. Dié twee skole, wat saam met Hoërskool Garsfontein gereeld onder die top tien rugbyskole in die land gereken word, het …

Meer as 10 000 ondersteuners van twee van Pretoria se top skolerugbyspanne, Hoërskool Waterkloof en Afrikaanse Hoër Seunsskool, het Saterdag by eersgenoemde se rugbyveld opgedaag om die jaarlikse derby tussen die twee rugbykragte te sien. Dié twee skole, wat saam met Hoërskool Garsfontein gereeld onder die top tien rugbyskole in die land gereken word, het hul jaarlikse derby drie jaar gelede ná ‘n onderbreking van vyf jaar hervat. Affies het intussen die afgelope twee jaar die derby gewen. Waterkloof se oortuigende oorwinning van 38-21 die afgelope naweek sal egter vir baie van dié skool se ondersteuners waarskynlik soete wraak wees ná Affies se omstrede oorwinning verlede jaar. Waterkloof se losskakel, Tinus de Beer, se briljante vertoning in Saterdag se wedstryd was die algemene besprekingspunt na die eindfluitjie. Dié blondekop het 23 van sy span se punte aangeteken, wat ‘n puik drie ingesluit het. Dit was egter sy algehele vertoning wat die tonge los gehad het. Hy het nie net puik pale toe geskop nie, maar sy taktiese skopwerk was ook deurslaggewend, terwyl hy gewys het dat hy ook met die bal kan hardloop as dit moet. Klofies het die wedstryd van die afskop af oorheers en hul eerste drie is reeds na net vier minute se spel gedruk. Hoewel Affies se skrum aanvanklik goed gevaar het, het die ‘Wit Bulle’ van die begin af gesukkel en dit was duidelik dat dié span nog effens rou is. Dit was slegs hul tweede wedstryd van die seisoen. Teenoor Affies se onafgeronde vertoning was Waterkloof puik en veral hul kombinasies in die span het beïndruk. Daarby het die Klofies regdeur die wedstryd hul teenstanders onder druk gehou en hul groter fiksheid het veral in die vaste skrums na vore gekom, waar die tuisspan al hoe beter gevaar het in die tweede helfte. Behalwe vir De Beer se puik spel het Waterkloof se lostrio ook beïndruk. Veral die flank Stian Smit se werkverrigting was iets besonders. Op slot het Tiaan Erasmus se vurige vertoning ook gereeld sy spanmaats voorlangs aangespoor. Affies se buitesenter, Tian Schmullian lyk na ‘n baie talentvolle speler, terwyl die flank, Gavin Foster, ook enduit sy hart uitgespeel het. Hoewel die eerstespanne se wedstryd die groot prys is in enige groot skole derby, kan Affies darem spog dat hulle al die rugby op die dag oorheers het. Uit die 14 wedstryde (van die eerstespanne tot by die o.14C’s) wat Saterdag tussen die twee skole se spanne gespeel is, het Affies 11 gewen. Waterkloof se o.15’s en hul o.16C-span was die enigste twee ander spanne wat hul eerstes se voorbeeld kon volg teen hul aartsvyande.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button