Die Sneeukoningin 2 is hier!
Staan 'n kans om kaartjies te wen na Die Sneeukoningin 2.

Orm, Gerda, Kai, Alfida en Luta is terug met ’n splinternuwe avontuur om die nare Sneeukoningin te verslaan in die tweede aflewering van die gewilde animasieprent, Die Sneeukoningin, wat beloof om kykers tot op die laaste minuut te boei en bekoor.
Die tekenprent is gebaseer op die oorspronklike klassieke sprokie (The Snow Queen) wat deur Hans Christian Andersen geskryf en in 1845 vir die eerste keer gepubliseer is. Die verhaal gaan oor die stryd tussen goed en sleg, wat deur ’n klein seuntjie en dogtertjie – Gerda en haar broertjie Kai – aangesê word en die avontuur en vriende op hulle pad, wat hulle uiteindelik tot oorwinning lei.
Ghoema en Tempo-wenner (Beste Nuweling, Beste Liedjie en Beste Musiekvideo), Leah, sing nie net die feëverhaal se temalied nie, maar is ook die stem van die film se heldin – Gerda.
Maak My Dag, geskryf deur Johan Vorster en Christoph Kotze, is ’n splinternuwe enkelsnit wat in Oktober 2016 vrygestel is as deel van die Deluxe weergawe van haar album, Wonderwerk. Volgens Leah wou sy nog altyd deel wees van ’n animasierolprent, maar haar eerste liefde is om op die verhoog op te tree. “Om ’n stem in ’n animasierolprent te wees, was nog altyd iets wat ek wou doen en dit was ’n nuwe uitdaging. Ek geniet dit om met my stem te speel en natuurlik toneel te speel, so ek sal dit verseker meer wil doen,” sê sy.
“As ek nou doodeerlik moet wees, is om op die verhoog te wees ’n kortkoppie voor, want dan is dit net ek, my musiek en wat jy sien, is wat jy kry. Maar dit was ’n wonderlike ervaring en ek is bitter dankbaar vir die geleentheid.” Oor die temalied verklap sy dat sy binne minute gaande was daaroor toe sy dit vir die eerste keer hoor. “Die liedjie is regtig ‘ek’. Dit gaan oor jou ander helfte, of eintlik enigiemand, wat jou dag kan ophelder met ’n glimlag,” sê sy.
“Partykeer moet ons net vergeet van al die negatiwiteit, alles laat gaan en uit jou maag uit lag. Dit is die beste as jy iemand in jou lewe het wat jou so kan laat lag.” Die enkelsnit is dus die perfekte pasmaat vir hierdie sprokiesverhaal, wat juis vriendskap, geluk en eerlikheid wil inspireer.
Van die ander karakterstemme word vertolk deur Pierre Breytenbach (Orm), Christine Voorendyk (Alfida) en Richard van der Westhuizen is Generaal Arrog. Nog bekende stemme wat in die fliek gehoor kan word, sluit Lochner De Kock, Heidi Mollentze, Leila Etsebeth en Anton Dekker in. Die stemregie vir Die Sneeukoningin 2 is behartig deur Riana Wilkens en die klankbaan is deur Mark Willott, ’n Emmy-bekroonde komponis uit die Middelande van die Verenigde Koninkryk, behartig.
Die Sneeukoningin 2 neem kykers op ’n prettige, emosionele avontuur, vol lewenslesse en humor, waarin die spieël weereens as die instrument van oorwinning gebruik word – want dit is eers wanneer Orm sy stryd teen die trol in die spieël wen, dat hy regtig vry en gelukkig kan wees. Dit is beslis ’n moet-kyk vir sprokieliefhebbers en klein ogies wat daarvan hou om weggevoer te word na ’n towerland vol opwinding.
Die film word op 25 November 2016 in teaters landswyd vrygestel.
KOMPETISIE:
Staan ‘n kans om een van drie dubbel kaartjies na die film te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die onderstaande kompetisie vorm in en gebruik die woord ‘SNEEU’ in die sleutelwoord blokkie.
