Grafsteensangers Centurion Hospice se nuwe ambassadeurs
“Mens moet onthou dat die Grafsteensangers nie oor die dood sing nie, maar oor herinneringe van dinge en mense wat verby is.”

Die Centurion Hospice verwelkom die ikoniese Grafsteensangers as hul nuwe ambassadeurs as deel van hulle opwindende sosiale-mediaveldtog.
“Die Grafsteensangers, ’n Pretoria-komediegroep wat al bykans 21 jaar aan die gang is, se lakoniese stemtone, galgehumor en nostalgie, is een van die redes waarom die Centurion Hospice hul genader het om as ons ambassadeurs op te tree.
“Die Grafsteensangers is uniek en om hulle as ambassadeurs te hê is half ’n ironiese terugverwysing na een van die Centurion Hospice se credo’s: lewe tot die dood,” sê Yolanda Barnard-Lemmer, woordvoerder van die Centurion Hospice.
In ’n unieke bemarkingsvideo wat eersdaags op sosialemediaplatforms bekendgestel gaan word, sê die weduwee van die Grafsteensangers dat sy “al haar goed na die Centurion Hospice neem”.
Haar buurvrou, van wie die weduwee glad nie hou nie, klap terug: “Solank dit nie jou melkterte is nie”.
Barnard-Lemmer sê die 12 lede van die groep, waaronder die grafgrawer, die kleinneef, die oupa en die rowwe broer verteenwoordig ook verskeie ouderdomsgroepe.
“Ons betree ’n nuwe era,” sê Barnard-Lemmer, “waar ons die jeug ook wil deelmaak van waarvoor die Centurion Hospice staan en van die tipe dienste wat ons aan die gemeenskap verrig.”
Die Grafsteensangers se woordvoerder, Mari-Lee Venter sê dit is vir hulle ’n groot eer om as ambassadeurs vir die Centurion Hospice op te tree.
“Ons ondersteun graag liefdadigheidsorganisasies, maar die Centurion Hospice se werk is so uniek dat ons dit onder die publiek se aandag wil bring.
“En natuurlik wil ons ook graag ’n konsert of twee doen om noodsaaklike fondse in te samel, maar die grendelstaat moet eers opgehef word,” sug sy.
Venter lag ook lekker oor die ironie van hulle toetrede tot die Centurion Hospice.
“Mens moet onthou dat die Grafsteensangers nie oor die dood sing nie, maar oor herinneringe van dinge en mense wat verby is.”
Ander plaaslike Pretoriase sangers wat ook aangedui het dat hulle as ambassadeurs vir Centurion Hospice gaan optree, is Lezahn van der Merwe, Mari Bosman en Elmé Churr.
“Dit is baie lekker om hulle aan boord te kry en ons is seker dat hulle tot ’n sekere segment van ons mark gaan resoneer. Ons wil hulle deelmaak van die Centurion Hospice-familie en ons glo dat hulle ons gaan bystaan om die Centurion Hospice se boodskap van hoop en leef oor te dra,” sê Barnard-Lemmer.
READ MORE: Doomsday for Centurion Hospice if donor support stops
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
