Dit gaan oor sy liefde vir dié plante
Die stad is die ideale plek om Clivias te plant, want die blomme is droogtebestand en benodig min water, sê Pieter van Eeden

Die stad is die ideale plek om Clivias te plant, want die blomme is droogtebestand en benodig min water, was Pieter van Eeden, wat met Clivias boer in die dorp, se mening.
Van Eeden het op Saterdag, 7 September, sy 10de Cliviaskou by sy huis in Groblerstraat aangebied.
“Clivias kom in verskillende kleure en daar is ses verskillende Clivia-spesies waarvan Clivia Miniata die mooiste is en dis wat ek uitstal en verkoop.
“Dis belangrik om te onthou dat Clivias in die skadu geplant moet word.
“Ek doen my eie kruisbestuiwing waar ek stuifmeel van die een blom neem en dit op ‘n ander sit en dan kry ek of ‘n wonderwerk of ‘n raaisel.”
Van Eeden het vertel hy besit ongeveer 8 000 Clivias en party van dié blomme ruik ook baie lekker.
“‘n Clivia hou tot ‘n maand in water as hy gesny word. Niemand kon nog vasstel hoe oud ‘n Clivia word nie. Party van my Clivias is 15-jaar oud,” het van Eeden gesê.
Van Eeden het twee weke gelede, op 31 Augustus, by Genl. Piet Joubert deelgeneem aan die Bosveld Clivia Skou waar 109 Clivias van oral in Limpopo uitgestal is.
Hy het verskeie pryse gewen en een van sy Clivias was die algehele wenner van die skou.

