Local NewsNews

Inwoners maak hulle stemme dik oor krisis

Inwoners van Mookgophong voel hulle word gepeper met riool- en waterkrisisse

Inwoners van Mookgophong voel hulle word gepeper met riool- en waterkrisisse en hulle het besluit om ‘n openbare optog te hou ten einde hulle stemme dik te maak teen die gebrek aan dié lewensnoodsaaklikheid.

Dit is na dié dorp vanaf 8 tot 16 September vir slegs twee dae oor lopende water beskik het.

Bosvelder het op 30 Augustus op bladsy 1 berig oor die rioolprobleem wat Mookgophong se inwoners in die gesig staar. Nou sê die inwonersforum, moet inwoners ook maar verlief neem met ‘n gebrek aan water vir dae aaneen.

Die doel van die optog, sê die forum, is hoofsaaklik te wyte aan ‘n gebrek aan behoorlike onderhoud van die bestaande waterverspreidingsnetwerk, gebrekkige beplanning vanaf die munisipaliteit, vermorsing en wanbesteding van toegewysde fondse sowel as powere vakmanskap en onvermoë om ‘n verbeterde watersuiweringswerke suksesvol te voltooi en te bedryf.

Sodra die munisipale bestuur genader word aangaande die waterprobleem, is verskeie verskonings aan die orde van die dag, sê die forum. Voorbeelde hiervan is: “Transformeerders is gesteel, ‘n waterpyp het gebars, kragonderbreking, ‘n waterpomp het uitgebrand, nodige instandhoudingswerk word gedoen”.

In alle gevalle word plegtig belowe die fout is reeds herstel of sal binnekort herstel wees en dat water binnekort voorsien sal word. Die forum sê daar word nie by hierdie beloftes gehou nie.

Die inwoners word wel in sekere dele van die dorp van waterkarre voorsien, spesifiek vir huishoudelike gebruik. Die forum sê hulle verneem dié bron is nie meer beskikbaar nie en hulle is bevrees hierdie noodmaatreël gaan ook heel waarskynlik opdroog.

Op 11 September is ‘n openbare optog gereël wat deur die hele gemeenskap ondersteun is. Die burgemeester het tydens die betoging ook sekere positiewe beloftes gemaak. Die forum sê geen van sy bogenoemde beloftes het tot op datum gerealiseer nie.

Die inwonersforum meen basiese menseregte word deur inwoners ontneem deur die gebrek aan verskaffing van veilige drinkwater soos deur wetgewing vereis. Die forum verwys spesifiek na die senior burgers van die dorp wat ook oor die meerderheid van die dorp se inwoners bestaan. Sommige van laasgenoemde inwoners vind dit meestal moeilik om oor die weg kom.

Ondernemings op die dorp kry ook swaar omdat die suksesvolle verloop van enige onderneming op die vrylike toegang tot water afhanklik is.

Daar is selfs in Augustus deur raadslid Louw ‘n resolusie deurgevoer om alle lugkleppe op die bestaande waterpype te laat diens om sodoende onnodige lug in die stelsel wat opgegaar word, te verhoed. Dié lug sê die forum, is ‘n groot faktor rakende die waterpype wat gereeld bars.

“Die tegniese afdeling van die munisipaliteit het klaarblyklik besluit om die voorstel te ignoreer. Nou sit die gemeenskap met die nagevolge,” sê die forum.

Burgerregte groepe soos AfriForum en Naboomspruit Inwonersforum het al verskeie skrywe aan die munisipaliteit gerig waar vergaderings aangevra is. Hulp is ook aangebied, maar die forum sê, elke poging is tot dusver geïgnoreer.

Die forum sê daar word by elke vergadering deur die munisipale bestuurder beklemtoon dat die munisipaliteit nie sonder die hulp en samewerking van die inwoners bedryf kan word nie. “Is dit nie maar net lippetaal nie?” wil die forum weet.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button