
Die gr. 7 leerders van Laerskool Krugerspark het Dinsdag ‘n voorsmakie gekry wat aanstaande jaar op hul wag wanneer hul hoërskoolloopbane afskop.
Jas Hansen, hoof van Hoërskool Piet Potgieter, het saam met die personeel en leerlingraad die leerders tydens die skool se opedag verwelkom.
Hy het daarop gewys dat die skool op alle vlakke presteer en die hartklop van die dorp is waar alles gebeur weens die puik geriewe op die terrein.
Die skool wat vanjaar 71 jaar oud is, is gegrond op Christelike waardes, het kundige personeel en is vakgerig. Akademie is die belangrikste van die vyf pilare waarop die skool rus.
Die kinders kan hier uitblink in sportsoorte soos atletiek, rugby, hokkie, netbal kieket, tennis en gholf.
Die puik swemspan sorg dat die skool die afgelope paar jaar koning kraai by die die interhoër-swemkampioenskappe.Vir diegene wat nie op die sportveld wil meeding nie, is daar skaak en verskeie kultuurgeleenthede wat regdeur die jaar gehou word.
Hoërskool Piet Potgieter bied die afgelope 25 jaar die Bosveld Kunstefees aan en die leerders is ook ywerige deelnemers aan die Bosveldmusiekfees.
Die skool spog met ‘n toneelgroep en die koor gaan op 22 Oktober saam met die gewilde sanggroep, Romanz, optree.
Geleenthede soos die onlangse kaskarwedren, die Tour de Pot fietswedren en sokkiejolle sorg dat die leeders met hul maats kan sosialiseer. Hansen het ook verwys na die talle suksesvolle sakemense op die dorp wat by HPP gematrikuleer het.
“Wanneer jy jou kant gebring het en hier weggaan sal jy ‘n op en wakker Suid-Afrikaner wees wat diep spore gaan trap,” het hy gesê.
