Stad se Oktoberfest gevul met “freude”
Die fees is by Bolivia Lodge aangebied en gaste het in hul Duitse uitrustings en helder tradisionele Duitse hoedjies opgedaag
Inwoners van Polokwane het op Saterdag, 21 September die kans gehad om op ‘n eg Duitse manier te eet, te drink en te kuier.
Die Oktoberfest is oorspronklik ‘n Duitse instelling wat reeds sedert 1810 jaarliks in Duitsland gevier word. Soms word na hierdie fees verwys as die Bierfees. Die Duitse gemeenskap van Polokwane het hierdie instelling na die stad gebring en het seker gemaak dat inwoners van Polokwane hierdie fees geniet.
Die fees is by Bolivia Lodge aangebied en gaste het vroegaand al begin opdaag, opgetooi in hul Duitse uitrustings en helder tradisionele Duitse hoedjies. Daar was ook van hierdie hoedjies by die fees te koop.
Vir slegs R200 per kaartjie is gaste verwelkom met ‘n 2013 Oktoberfest bierbeker om huis toe te neem, gevul met ‘n yskoue bier. Die prys het ook ‘n eg Duitse ete ingesluit met kapokaartappels, bratwurst, sauerkraut, eisbein en ‘n verskeidenheid slaaie.
Daar was ook ‘n Duitse oompah-orkes wat gaste aan die dans gehou het tot laataand.
Geld wat met kaartjieverkope ingesamel is gaan aan die Duitse gemeenskap en kerk van Polokwane.









