NewsSchools

Wat sal kinders doen as hulle baie geld het?

Review het met gr. 2--leerders van Laerskool Pietersburg gaan gesels om te hoor wat hulle sou koop as hulle baie geld gekry het, en wat die moeilikste ding van kindwees is.

POLOKWANE – Kinderdag word in Suid-Afrika op die eerste Saterdag van November gevier. Review het met gr. 2–leerders van Laerskool Pietersburg gaan gesels om te hoor wat hulle sou koop as hulle baie geld gekry het, en wat die moeilikste ding van kindwees is.

Sternberg Boshoff het eerste gesels. Vir hom is die moeilikste ding van kindwees om elke dag huiswerk te doen en as hy baie geld kry, sal hy ‘n rooi Ferrari koop. “Rooi Ferrari’s ry baie vinnig en ek hou van vinnige karre,” vertel hy.

“Vir my is die moeilikste ding om elke dag skool toe te gaan en ook om baie sport te doen,” vertel JP Ungerer. As hy baie geld kry, sal hy baie karre koop, waarvan een ‘n groen Lamborghini sal wees.

Pieter Kruger hou meer van motorfietse en sal, as hy baie geld kry, ‘n groen BMW-motorfiets koop. Vir hom is die moeilikste van kindwees om sport te doen “soos wat grootmense dit doen”.

“Die moeilikste ding vir my is om hokkie te speel,” vertel Dylan Marriot wat ‘n dubbelverdiepinghuis met ‘n swembad sal koop as hy baie geld kry.

Riska Brits sal met haar baie geld ‘n kar en baie klere en skoene koop. Vir haar is die moeilikste van kindwees die skoolwerk. “Veral Engels is vir my moeilik,” sê sy.

“Ek sal ‘n 4×4-Audi koop,” vertel Wian Terblanche. “Die moeilikste ding is om huiswerk te doen as ek moeg is,” vertel hy.

Gerhard Janse van Nieuwenhuizen sal twee Lamborghini’s koop as hy baie geld kry. “Een vir my en een vir my vriend,” vertel hy. Vir hom is skool die moeilikste ding van kind wees. “Dis net elke dag skool,” verduidelik hy.

“Ek sal ‘n trippel verdieping huis koop en klere,” sê Larochelle Evert. Vir haar is die moeilikste ding van kindwees as sy met haar sussie en boetie baklei.

Jessica Kitching sal vir haar ‘n vinnige kar koop as sy baie geld het. Vir haar is kindwees nie moeilik nie, maar sy hou niks daarvan as sy en haar suster of sy en haar vriende baklei nie.

Gerald Richards sê huiswerk is die moeilikste en as hy baie geld kry sal hy ‘n groot dubbelverdieping huis koop.

“Ek sal ‘n ‘double cab’ Toyota koop sodat ek op die plaas kan rondry en omdat dit mooi is,” vertel PJ Vermeulen. Vir hom is die moeilikste ding in sy lewe om die kitaar reg te speel.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button