NewsSchools

Sy deur staan altyd oop

Wanneer daar iets op die sportveld of speelgronde van Laerskool Pietersburg-Noord gebeur sal jy vergeefs die skoolhoof in sy kantoor soek

POLOKWANE – Wanneer daar iets op die sportveld of speelgronde van Laerskool Pietersburg-Noord gebeur sal jy vergeefs die skoolhoof in sy kantoor soek, want Attie Visagie het sy vinger op die pols en sy kinders, soos hy die leerders noem, se belange op die hart.

Attie is al 13 jaar lank die hoof van Noordskool en volwassenes, wat as kinders deur sy bekwame hande is, kom gereeld kuier om hulle suksesverhale met hom te deel.

Hierdie pa en oupa vertel dat daar geen verskil is tussen die mens wat hy by die huis is en die mens wat by die skool leiding neem nie. “Daar is dinge wat vir my belangrik is in die lewe en dit geld vir die huis en die skool. Liefde, respek en menslikheid is ewe belangrik in die huis en by die skool. Verder is balans in alles wat jy doen ook baie belangrik.”

Attie het in 1982 begin skoolhou by Laerskool Piet Hugo, waar hy ‘n wiskunde-onderwyser was, en vandag, 32 jaar later, kan hy steeds nie genoeg kry van die skoollewe nie.

“Dit is wel lekkerder om ‘n gewone onderwyser te wees, want jy werk direk met die kinders en jy sit nie met al die stres van ‘n hoof wat die skool moet dra nie,” sê hy.

Volgens Attie is die eienskappe van ‘n goeie skoolhoof liefde, toewyding en geloof in jou personeel en die skoolkinders.

Vir hom is die moeilikste deel van sy werk wanneer hy kinders moet help wat deur die grootmense in hulle lewens stukkend gemaak is. Dit is ‘n kwessie wat hom baie na aan die hart lê en daarom staan sy kantoordeur altyd oop vir kinders wat hulp nodig het.

Attie sê daar is geen groter vreugde as wanneer hy sien ‘n kind of onderwyser van sy skool bereik iets wat hulle gelukkig maak nie. Daarom geniet hy sy werk so baie.

Sy verhouding met die Here is vir hom baie belangrik en hy vertel hoe sy geloof hom deur die jare gedra het. Dit is ook sy raad aan voornemende skoolhoofde: “Hou vas aan net drie dinge: Geloof, hoop en liefde”.

Attie sê hy wou eintlik boer, maar die lewe loop soms ander draaie met ‘n mens. “Ek sou nooit ‘n onderwyser geword het as dit nie was vir tannie Hettie Goosen in wie se pleegsorg ek was nie. “Sy het my so half gedwing in die ding in. My grootste rolmodel is my Hemelse Vader sonder wie niks sou gebeur het nie,” vertel hy.

Wanneer hy nie die skool bestuur of besig is met rugby-afrigting nie, speel Attie graag gholf, ry hy fiets of doen hy CrossFit-oefeninge.

Hy sou graag twee dinge in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel wou verander, sê Attie. Eerstens wil hy hê die staat moet gratis onderwys vir alle skole terugbring en tweedens dat die departement van onderwys se beplanners hulle neuse uit skoolsake moet hou.

Vir Attie is dit baie belangrik dat elke kind belangrik en geliefd moet voel, daarom leef hy volgens sy eie goue reël: “Plaas jouself altyd in die ander persoon se skoene, wees konsekwent en menslik en plaas die kind altyd eerste in alle besluite.”

Related Articles

Back to top button