Local NewsNews

Wallie spog met top toekenning

'n Groot eer het 'n jagter en sakeman van Tzaneen, Wallie van Dyk, te beurt geval.

TZANEEN – ‘n Groot eer het ‘n jagter en sakeman van Tzaneen, Wallie van Dyk, te beurt geval.

Van Dyk het verlede jaar die gesogte Musgrave-toekenning as Suid-Afrika se trofeejagter van die jaar ontvang. Dié toekenning word deur Chasa (die konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika) toegeken.

Die Musgrave-toekenning word een keer per jaar aan ‘n geskikte kandidaat oorhandig, indien daar wel ‘n geskikte kandidaat is.

Van Dyk is die eerste lid van die Bosveld Jagtersvereniging se Letaba-tak wat die eer te beurt geval het en is die 20ste ontvanger van die toekenning landwyd.

Volgens die jagtersvereniging is dit die belangrikste toekenning wat enige trofeejagter in Suid-Afrika kan ontvang. Om te kwalifiseer vir die toekenning moet verskeie spesies gejag word. Die klem word geplaas op die jagter se jagloopbaan in geheel.

Van Dyk het vertel dat hy 46 van die 54 spesies op die lys geskiet het in sewe lande op die Afrika-kontinent.

In 1981 het Chasa ‘n subkomitee aan-gestel om ondersoek in te stel na die moontlikheid om op gepaste wyse erkenning te verleen aan die prestasies van toegewyde suksesvolle trofeejagters in die georganiseerde amateur jag-opset. Dit het daartoe gelei dat die eerste toekenning, wat tans bekend staan as die Musgrave-trofee, in 1984 oorhandig is.

Die toekenning bestaan uit ‘n bronsbeeldjie van ‘n boesman in ‘n tipiese jaghouding, gemonteer op ‘n paslike houtvoetstuk en is die skepping van die bekende beeldhouer, Jo Roos.

Dit bly die eiendom van die ontvanger en is nie ‘n wisseltrofee nie.

Die Musgrave-toekenning is nie ‘n kompetisie nie, maar ‘n ere-toekenning. Dis ook nie ‘n resies waarin meegeding word om te sien wie eerste by die wenpaal aankom nie. Dit is ook nie vir buitelanders beskibaar nie.

Die toekenning is ‘n erkenning vir die mees verdienstelike kandidaat.

Dit is ‘n aansporing vir die jagter om die beste van sy soort in die land te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button