Lindie vertel haar storie
Ten spyte van 'n moeilike kinderlewe en 'n hele reeks terugslae, het Lindie Stander, bekende aktrise en aanbieder, haar probleme oorkom, en gebruik sy nou haar lewensverhaal om ander te motiveer.
POLOKWANE – Ten spyte van ‘n moeilike kinderlewe en ‘n hele reeks terugslae, het Lindie Stander, bekende aktrise en aanbieder, haar probleme oorkom, en gebruik sy nou haar lewensverhaal om ander te motiveer.
Dié motiveringspreker het verlede Sondag ‘n praatjie gelewer by die NG Kerk-Noord in Polokwane.
Sy het vertel hoe sy ongeveer ‘n jaar gelede ‘n einde aan haar lewe wou maak en op die ou einde alles verloor het, insluitend haar motor, werk en huis.
“Ek moes en het ‘n doelbewuste keuse gemaak dat ek nie alleen kan stap nie. Alles wat ek bereik het was gawes,” het sy vertel.
Stander het vertel dat sy ‘n enigste kind was en op vyfjarige ouderdom haar pa se selfdood moes aanskou. Dit was haar eerste kennismaking met die dood. “Ek het gesien hoe my pa homself hang.”
Hierna het sy grootgeword met ‘n ma wat ook aan depressie gely het. Sy het vertel dat dit nie ‘n maklike tyd in haar lewe was nie, maar dat sy nie hoop verloor het nie. “Ek was altyd die odd one out. Ek het nie omgegee dat ek weird was en nêrens ingepas het nie”. Sy het verduidelik hoe sy al as kleuter besef het dat sy mense kon laat lag.
In gr. 8 het sy gedragsprobleme begin toon en haarself begin afsonder. Daarna het sy al hoe meer gesukkel om aan te pas. ‘n Groot deel van haar gr. 12-jaar het sy in die hospitaal deurgebring omdat sy eetversteurings moes oorkom.
Later het sy ook dwelms begin gebruik en dit het uitgeloop op haar selfmoordpoging.
“Ek het selfmoord probeer pleeg, want ek kon nie meer met die seer en eensaamheid saamleef nie,” het sy vertel. Stander het vertel hoe die vervaardigers van die sepie waarin sy op daardie stadium gespeel het, haar in die hospitaal besoek het en verduidelik het dat sy haar werk verloor het. “Alles waarvoor ek gewerk het, was weg.”
Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, het Stander vier weke by die Elimkliniek deurgebring waar sy intensiewe behandeling ondergaan het.
“Ek is op my knieë gedwing en het besluit om voor die Skepper te gaan staan en jammer te sê. Ek moes erken dat ek nie dinge alleen kan doen nie,” het sy gesê.
Volgens Stander het daar nie ‘n dag verbygegaan waarop sy nie gehuil het nie, maar sy het geleer om uit te hou en aan te hou.
Haar verhaal van die tweede kans wat sy gekry het, het die gehoor vasgenael gehou. Na die tyd het sy drukkies uitgedeel en geselsies aangeknoop.
“Lindie se storie is inspirerend. Ek is baie bly sy het by ons kom kuier,” het Wandi Potgieter, ‘n lid van die gehoor, gesê.



