Local NewsNews

Al 17 jaar tuinbouklublid

Plante is 'n groot passie vir Marie Grobler (77) van Polokwane en een van haar kennisse vertel selfs sy is 'n lopende ensiklopedie waar dit by plante kom

POLOKWANE – Plante is ‘n groot passie vir Marie Grobler (77) van Polokwane en een van haar kennisse vertel selfs sy is ‘n lopende ensiklopedie waar dit by plante kom.

Marie sê sy is op haar gelukkigste tussen mense wat dieselfde belangstellings as sy het, soos by die tuinbouklub waarvan sy al 17 jaar lid is. Sy vertel graag dat sy in ‘n stadium elke soort plant versamel het, maar dat dit te veel geraak het. Haar gunsteling plant is die Clivia, en sy sê sy het redelik baie kennis oor hierdie plant.

Marie vertel sy is in Haenerstburg gebore en het toe sy in gr. 2 was vir ses maande by haar tannie in Machadodorp gebly. “Dit was die jare van die oorlog en my ouers was daarby betrokke. Ek het by my ouma groot geword,” vertel sy.

Later in haar skoolloopbaan het sy in Duiwelskloof, nou bekend as Modjadjiskloof, en ook in Mooketsi gewoon.

Sy het na skool vir die poskantoor gaan werk. “Ons het kostetoelae gekry en toe ek trou sê die poskantoor ek kan nie meer kostetoelae kry nie, aangesien my man, Grobbie, dit by die spoorweg gekry het. Toe bedank ek,” onthou sy.

Sy het besluit om by die huis te bly en na haar drie dogters te kyk. Hulle het Tzaneen toe verhuis waar sy ‘n winkel se boekhouding behartig het.

“Die winkeleienaar het my eendag bank toe geneem waar hulle personeel gekort het. Ek het vir 39 jaar by Standard Bank gewerk, tot my aftrede.”

Sy vertel haar pa was Portugees en het geglo ‘n mens plant groente nie blomme nie. “My ouma was ook baie lief vir tuinmaak en het groot ‘n groot tuin gehad.”

“Toe ek op skool was het die koshuismatrone my sien bossies loop en uittrek en my toe gevra om haar in haar tuin te help. Dit was nog altyd vir my lekker om in die tuin besig te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button