Osies rou oor haar afsterwe
Die seer plekkie in elke Osie-hart vandag en die groot gemis wat kom, kan nie in woorde omskryf word nie. Chantelle se plek is leeg by die skool, maar die herinneringe en liefde is vol in ons gedagtes en ons harte. Chantelle se innemende persoonlikheid en sagte glimlag sal ons altyd bybly. Mag jy sag rus by Jesus se voete.
POLOKWANE – Die seer plekkie in elke Osie-hart vandag en die groot gemis wat kom, kan nie in woorde omskryf word nie. Chantelle se plek is leeg by die skool, maar die herinneringe en liefde is vol in ons gedagtes en ons harte. Chantelle se innemende persoonlikheid en sagte glimlag sal ons altyd bybly. Mag jy sag rus by Jesus se voete.
Dít is die boodskap wat Oosskool Maandag deur die waarnemende skoolhoof, Lizette Olivier gestuur het na die afsterwe van die 12-jarige Chantelle van Staden.
Chantelle, ‘n gr. 7-leerder aan dié skool, het Sondag haar stryd teen infeksie na ‘n spinnekopbyt verloor.
Chantelle is sowat ‘n maand gelede in die hospitaal opgeneem vir lyfseer en infeksie na wat dokters en haar ouers glo ‘n spinnekopbyt was.
Na Chantelle begin kla het oor lyfseer is sy dokter toe, waar sy medikasie gekry het teen bosluiskoors en spinnekopbyte. “Sy het die medisyne gedrink, maar die pyn het nie weggegaan nie en haar voet het begin blou raak,” vertel haar pa, Braam van Staden. Sy is by Mediclinic Limpopo opgeneem en na ‘n week ontslaan. Haar toestand het egter nie verbeter nie.
By Unitas in Pretoria was die jong meisie se been reeds blou en koud, en haar voet het geen pols gehad nie. Sy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem.
Sy het eers bloedverdunners gekry, met die hoop dat dit die bloedsomloop na haar voet sou herstel. Na die medikasie onsuksesvol was, het Chantelle vir ‘n operasie om die are te probeer oopmaak ondergaan, maar dit ook was onsuksesvol. Die weefsel in haar voet was reeds dood en kon nie gered word nie; sy het ook erge infeksie gehad.
Kort daarna is Chantelle se linkerbeen onder die knie geamputeer, maar met die erge infeksie wat haar hele liggam vergiftig het, het sy Saterdag haar regter voet ook verloor.
Chantelle is voor die ouderdom van drie jaar ook met tipe een diabetes gediagnoseer en outo-immuunhepatitis wat haar immuunstelsel verswak.
As gevolg van die outo-immuunhepatitis en erge infeksie in Chantelle se liggam, het Chantelle ook vir sowat twee weke inwendige bloeding gehad voor sy oorlede is.
“Haar liggam kon net nie meer alles vat nie, hy kon nie meer teen die infeksie en pyn baklei nie,” vertel Braam harsteer.
Die begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie bekend nie.
“Die seer plekkie in elke Osie-hart vandag en die groot gemis wat kom, kan nie in woorde omskryf word nie. Chantelle se plek is leeg by die skool, maar die herinneringe en liefde is vol in ons gedagtes en ons harte. Chantelle se innemende persoonlikheid en sagte glimlag sal ons altyd bybly. Mag jy sag rus by Jesus se voete,” was almal by Oosskool se boodskap.



