Juffrou Mari Le Cornu: ‘n onderwysgees sterf
Mari Le Cornu was vir 37 jaar 'n onderwyser by Noordskool voordat sy in 2012 wees gesondheidsredes moes aftree. Beenkanker was die groot rede vir haar agteruitgang.
POLOKWANE – Mari Le Cornu was vir 37 jaar ‘n onderwyser by Noordskool voordat sy in 2012 wees gesondheidsredes moes aftree. Beenkanker was die groot rede vir haar agteruitgang.
Le Cornu is Saterdag oorlede, kort voor haar 62ste verjaarsdag op 15 Maart.
Sy is al meer as ses jaar gelede met beenkanker gediagnoseer, maar het aanhou skoolgee ondanks die diagnose.
Volgens haar kollegas was Le Cornu baie lief vir die onderwys en gek na haar leerders. Sy het selfs nadat sommige hul skoolloopbane voltooi het, steeds kontak met van haar gr. 2-leerders gehad en van hulle kinders was ook in “juffrou Mari” se gr. 2-klas.
Sy het onder meer vir Victor Matfield skoolgehou en volgens Noordskool se skakelbeampte, Grace Jacobs, het sy tot haar einde van “Victortjie” gepraat.
Le Cornu het nooit getrou nie en sy het haar leerders as “haar” kinders gesien. Sy het twee honde gehad wat sy tot in die afgrond bederf het. “Mari se humor het tot op haar sterfbed by haar gebly,” vertel Jacobs.
“‘n Week voor haar dood het Mari vir ‘n oud-kollega gesê dat sy so goed voel sy sal sommer weer kom help netbal afrig!” vertel sy verder.
Ook Yvette de Wet, adjunk-hoof van Noordskool, lewer ‘n huldeblyk: “Dit was ‘n voorreg om vir 32 jaar lank saam met Mari te kon skoolhou. Vandag eer ek God vir haar lewe en vir die lewens wat sy aangeraak en geïnspireer het. Haar grootste passie was mense, daarom het sy haar onderskei as ‘n puik, liefdevolle onderwyseres.”
Volgens De Wet was Noordskool Le Cornu se platform en het sy haarself daar uitgeleef. Al haar gr. 2-leerders was vir haar kosbaar. De Wet vertel dat Le Cornu elke oggend sekergemaak het dat elke kind in haar klas iets te ete gehad het, en as daar ‘n kind was wat nie iets te ete gehad het nie, het sy self gesorg.
“Mari het ‘n intense liefde vir sport gehad, veral vir atletiek. Sy was die eerste vrou wat haarself as afsitter gekwalifiseer het in die Verre-Noorde,” sê De Wet.
Attie Visagie, hoof van Noordskool sê: “Meraai Meraai, ek belowe ons gaan die kinders net soos jy met liefde behandel. Ek belowe ek sal mooi kyk na Noordskool se personeel soos jy vir my gevra het teen die einde.
“Onthou jy toe jy my gedwing het om te belowe ek sal Noordskool voor opstel. Maar jy het vir almal en alles om jou gesorg, gebid, bemoedig en nou… Jy laat ‘n leemte, hoe sal ek dit vul in ‘ons’ Noordskool, ‘ons’ gemeenskap,’ons’ onderwyskorps en ‘ons’ pelle.
“Ek weet jy het alreeds ‘n gr. 2-klas begin in die Hemel met die grootste hoof ooit. Geniet jou ‘afperiodes’, lekker lag en sonskyn tydperk. Tot ons weersien, Yster.
“Dit was en sal altyd ‘n voorreg wees om jou te kon ken en deel van jou lewe te kon wees. Ek hoor jou sê ‘ag jitte, meneer.'”
Leana Le Cornu, Mari se skoonsuster, het haar dank teenoor Elize Bergh gespreek vir die jare se omgee en geduld. “Hulle was twee huismaats wat goed saam gewerk het. “Nonnie, soos die familie haar genoem het, sal gemis word. Ons as familie het by Nonnie geleer dat ‘n mens veg tot die einde. Nonnie was ‘n persoon wat altyd haar 100% gegee het.”



