Daantjie Kat kuier by Eeufeeshuis
Daantjie Kat en die verkeersdepartement het Donderdag by Eeufeeshuis besoek afgelê om inwoners en dagbesoekers meer oor algemene padveiligheid te leer.
POLOKWANE – Daantjie Kat en die verkeersdepartement het Donderdag by Eeufeeshuis besoek afgelê om inwoners en dagbesoekers meer oor algemene padveiligheid te leer.
Die inwoners en dagbesoekers het aandagtig na alles wat hulle te sê gehad het, geluister veral toe Francois Lubbe en Bettie Gouws van die verkeersdepartement een van die inwoners wat verlede jaar raakgery is, as ‘n voorbeeld gebruik het.
“Ruan het nie gekyk nie, en toe word hy raakgery,” het hy verduidelik
Hulle het ook geleer dat hulle regs, links en weer regs moet kyk voor hulle oor ‘n pad stap. Hulle moet altyd by ‘n rooi verkeerslig stop, en steeds kyk voordat hulle by ‘n groen verkeerslig oor die pad stap.
Lubbe het ook vir hulle ‘n liedjie geleer voor Daantjie Kat sy verskyning gemaak het, en hulle foto’s saam met Daantjie Kat kon neem.
“Ons is baie lief vir Daantjie Kat en waardeer dat hy, Francois en Bettie vir ons kom kuier het,” het Kiewiet du Preez, een van die inwoners, gesê.



