Oues reg om te stem
Suid-Afrika se volgende algemene verkiesing is om die draai en Review het by die inwoners van Martha Hofmeyer Tehuis gaan hoor of hulle nog elke keer stem wanneer die geleentheid hom voordoen.
POLOKWANE – Suid-Afrika se volgende algemene verkiesing is om die draai en Review het by die inwoners van Martha Hofmeyer Tehuis gaan hoor of hulle nog elke keer stem wanneer die geleentheid hom voordoen.
Hannie Venter het vertel dat sy in elke verkiesing en referendum gestem het toe sy jonger was en sal vanjaar weer op 7 Mei haar kruisie trek. “Dis baie belangrik vir ‘n mens se land dat elkeen moet stem,” het sy gesê.
Ook Betsie Stander het gesê sy stem al vandat sy wettiglik haar stem kon neersit. “Ek gaan hierdie jaar weer stem. As jy ‘n landsburger is, moet jy stem.”
Marthie Hattingh het verduidelik sy voel indien iemand nie stem nie, kan daardie persoon ook nie later kla nie. Sy stem ook al haar lewe lank en beplan om hierdie jaar weer te stem.
Hettie Illingworth, wat ook reeds van jongs af stem, en besluit het sy gaan hierdie jaar weer stem, het gesê dis haar reg en plig as landsburger om te stem.
Len Silley het gesê hy dink as mens iets wil bereik in ons land, moet jy jou stem laat geld.
Kabelo Maputo het gesê hy stem sedert 1994 by elke geleentheid en gaan hierdie jaar weer stem. “Ek stem om verbetering te sien,” het hy gesê.
Maria Seola het verduidelik dat dit haar reg is om te stem en sy gaan nie hierdie reg van haar opgee nie. Sy sal elke keer stem.
Will Allkers het gesê elke landsburger moet stem vir die behoud van die volk en land, terwyl Nelie de Bruin gesê het sy is nie geregistreer om te stem nie. Sy het wel gesê sy sal graag stem wanneer sy as kieser geregistreer het.
Frederick Botha vertel hy het nie gestem toe hy jonger was nie en beplan ook nie om nou te begin nie.
Hennie Hattingh het wel gestem toe hy jonger was en beplan om ook in die opkomende verkiesing te gaan stem. “Dis elke inwoner van die land se morele plig om te stem. As jy nie gestem het nie, het jy letterlik nie ‘n stem nie.”
Cilma Kellermann het gestem toe sy jonger was en gaan nou weer stem. “‘n Mens moet jou stem uitkry,” het sy gesê.



