Adele baie lief vir tuinmaak
Daar is niks "fancy" of "smart" aan Adele Botha nie, maar tog is sy gereeld te sien langs die rugbyveld waar haar seun speel.
POLOKWANE – Daar is niks “fancy” of “smart” aan Adele Botha nie, maar tog is sy gereeld te sien langs die rugbyveld waar haar seun speel.
Adele (38) is getroud met Flip Botha en saam het hulle drie seuns, Flippie, A.J. en Ferdie.
“Flippie is in Tom Naudé, maar die ander twee is in Piet Hugo. Ferdie gaan ook volgende jaar Tom Naudé toe,” vertel sy trots.
Adele is ‘n huisvrou wat finansiële bestuur studeer het, maar tans haar man in sy tuinboubesigheid help. “Ek is baie lief vir tuine en tuinmaak en het self ‘n groot tuin,” vertel sy.
Sy sê haar kinders is ook baie lief vir tuinmaak, en hulle is nou groot genoeg om behulpsaam te wees.
Adele is in Modjadjiskloof gebore. Sy en haar gesin het later Polokwane toe getrek, en daarna na Empangeni, waar sy haar hoërskool loopbaan voltooi het. “Vyf jaar later het ek terug getrek Polokwane toe.”
Behalwe vir tuinmaak is sy lief vir lees. “Ek lees enige iets, as ek ‘n boek in die hande kry, lees ek hom.” Sy vertel skaam dat haar gunsteling tyd verdryf op ‘n Saterdagaand is om met ‘n boek in die bad te lê.
As daar vyf mense is met wie sy aandete sou deel sou dit haar man wees, asook Bakkies Botha, Morné Steyn, Paula van 7de Laan (Diaan Lawrence) en Robert Patterson (Edward van Twilight). Sy ‘n rugby fanatikus en die Blou Bulle haar gunsteling span. Haar gunsteling speler in die Blou Bul span is Victor Matfield.



