Alfrieda is al 17 jaar lank ‘n kankeroorwinnaar
Die gedagte dat my kinders sonder 'n ma sou grootword, is wat my die krag gegee het om nie moed te verloor gee nie en aan te hou glo dat ek beter sou word, sê Alfrieda Hannam wat al 17 jaar lank 'n kankeroorwinnaar is.
POLOKWANE – Die gedagte dat my kinders sonder ‘n ma sou grootword, is wat my die krag gegee het om nie moed te verloor gee nie en aan te hou glo dat ek beter sou word, sê Alfrieda Hannam wat al 17 jaar lank ‘n kankeroorwinnaar is.
Die 49-jarige inwoner van Westenburg is in 1996 met “choriocarcinoma” ook bekend as kiemselgewas, gediagnoseer.
Hannam was swanger toe die dokter haar met kanker diagnoseer het, maar haar swangerskap het in die buis van die eierstok ontwikkel en sy het die baba verloor.
Hannam sê haar eerste gedagte toe die dokter vir haar sê sy het kanker was haar kinders. “My kinders was nog baie jonk. My seun was vier en my dogter agt. Ek was bekommerd oor wat van my kinders sou word. Ek het myself afgevra: gaan ek regtig nou al dood? Ek het dadelik my ma van die telefoonhokkie af gebel, want die dokters het my dadelik opgeneem en ek is toe oorgeplaas na ‘n hospitaal in Pretoria,” sê Hannam.
Sy het haar behandeling by die voormalige H.F. Verwoerd Hospitaal, nou bekend as die Tshwane Distrikshospitaal, ontvang.
“Ek het vyf dae ‘n week chemo-terapie gekry en naweke kon ek huistoe gaan. Sondae het my suster my weer terug geneem Pretoria toe. Ek het vir ‘n jaar lank behandeling gekry en na dit moes ek elke week gaan vir ‘n ondersoek en toetse vir drie maande lank. Daarna moes ek elke tweede week teruggaan vir drie maande, toe elke ses maande en nou gaan ek jaarliks vir ‘n ondersoek en toetse.
“Ek was verlede maand daar vir my ondersoek en die toets het negatief teruggekom,” verduidelik Hannam.
Sy sê toe sy siek was, was die grootste uitdaging vir haar om op te staan en weer chemoterapie te kry, want dit maak mens baie siek.
“‘n Mens voel naar en moeg en jy het geen eetlus nie. As die derde dag van chemo aangebreek het, het ek soos ‘n zombie gevoel en ek het rukkings gekry. Dit was deel van die newe-effekte van die behandeling. Dit is ‘n gevoel wat ek vir niemand toewens nie.
“Ek het gebid vir Vrydae om te kom, want dan kon ek huistoe gaan en het twee dae van vryheid van chemo gehad,” vertel Hannam.
Hannam se suster, Estrelita Harmse, sê dit was ‘n baie moeilike en emosionele tyd vir die familie.
“My suster se siekte het veral my ouers baie diep getref. Dit het my hart gebreek om haar so te sien. Sy was maer en die chemo het gemaak dat haar hare uitval.
“Dit was ook baie moeilik, want haar kinders was nog baie jonk en sy moes behandeling in Pretoria kry, want die provinsiale hospitaal in Polokwane het toe nie die nodige fasiliteite gehad om haar te behandel nie,” vertel Harmse.
Hannam se raad aan ander kankerpasiënte is: “moet nooit moed verloor nie. Praat met jou Here, want Hy luister. Ons moet net glo en vertrou en nie twyfel nie. Hy het vir my ‘n kans gegee, so dit is moontlik om ten volle kanker te oorwin in Sy naam,” sê Hannam.
In herdenking van Shaamdré “Trompie” Hartlief en viering van haar 17 jaar van kankeroorwinning het Hannam haar hare afgeskeer by die Kansa Shavathon in herdenking van Trompie op 29 Maart.



