Familieman staan ook pa vir 560
Om 'n pa te wees is nie altyd een van die maklikste take in die wêreld nie, veral nie as jy die pa van 560 kinders tussen die ouderdomme van drie en 18 jaar is nie.
POLOKWANE – Om ‘n pa te wees is nie altyd een van die maklikste take in die wêreld nie, veral nie as jy die pa van 560 kinders tussen die ouderdomme van drie en 18 jaar is nie.
Vir Eben Lingefelder, uitvoerende hoof van Curro Heuwelkruin, is dit egter baie lekker om vir die skool se leerders pa te staan.
Sondag is Vadersdag en Review het met Eben gaan gesels om die man agter die suksesvolle skoolhoof te leer ken.
Eben is 47 jaar oud en die pa van twee seuns, Eben (5) en Luan (3).
Hy was ‘n leerder van Hoërskool Pietersburg en na skool het hy ‘n graad in sielkunde en sy hoër onderwysdiploma aan Tukkies verwerf.
“Ek het teruggekom na Polokwane en by my Alma Mater, PHS, begin werk. Ek het vir 16 jaar lank Afrikaans, wat ook my gunsteling vak op skool was, vir die gr. 12’s aangebied.”
Dis dan ook by PHS waar hy sy vrou, Elouna, ontmoet het.
Sewe jaar gelede het Heuwelkruin sy deure oopgemaak en Eben sê hy was een van die eerste onderwysers wat daar aangestel is.
“Vier jaar gelede, nadat Curro die skool oorgeneem het, is ek as skoolhoof aangestel. Die korporatiewe deel van my werk is vreemd vir my, maar ek geniet dit.”
Eben vertel dat daar, volgens hom, nie ‘n beroep is met ‘n groter werksbe-vrediging as onderwys nie. Tog sou hy graag met wild wou boer as hy nie in die onderwys gestaan het nie. “Ek en my skoonpa het ‘n buffelboerdery saam begin, maar dis nog baie klein.”
Sy werk as skoolhoof is nie altyd maklik nie.
Eben vertel een van die moeilikste situasies wat hy nog in sy loopbaan as skoolhoof moes hanteer was vroeër vanjaar toe die 15-jarige Walter Badenhorst, ‘n leerder van Heuwelkruin, in ‘n kwadfiets-ongeluk dood is.
“Die moeilikste is om ‘n kind te verloor,” sê hy.
Verder vertel Eben dat onderwys oor die jare net op sekere vlakke verander het. “Kinders bly dieselfde,” vertel hy met ‘n glimlag.
“‘n Kind bly ‘n kind, maak nie saak wat nie. Sosiale media en die internet het dinge egter verander. Waar die skool destyds die primêre bron van inligting was, is die internet nou daar om daardie rol te vervul.”
Eben glo aan ‘n oop-deur beleid en voel dat sy personeel en die kinders ten alle tye welkom by hom moet voel.
In sy vrye tyd lees Eben graag. Ook is hy baie lief vir die natuur, plaaslewe en om te jag.



