Kosbare hulpbron gemors
Westenburg inwoners wil weet wie gaan betaal vir die water wat gemors is nadat sowat verskeie munisipale watermeters in die buurt gebars het Saterdag-oggend.
POLOKWANE – Westenburg inwoners wil weet wie gaan betaal vir die water wat gemors is nadat sowat verskeie munisipale watermeters in die buurt gebars het Saterdag-oggend.
Ragel Speak (38) woon in Lemurstraat en is een van dié wie se watermeter gebars het.
“Toe ek 07:30 buitentoe gaan, sien ek hoe spuit die water. Ons het dadelik die munisipaliteit gebel en hulle het gesê hulle gaan iemand uitstuur, maar niemand het gekom nie.
“Ek het so vier keer deur die dag gebel en nogsteeds het niemand uitgekom nie. Ons het die watermeter met ‘n ou binneband van ‘n fiets vasgebind en ook plastiek daarom gesit, maar dit het nie veel gehelp nie, want daar was nog baie water wat gemors het.”
Speak het ook emmers onder die watermeter gesit om van die water op te vang wat hulle in die huis gebruik het.
“Ek het die munisipaliteit weer Sondag drie keer gebel en Maandagoggend ook, maar die munisipaliteit het nogsteeds niemand gestuur nie. Hulle het eers Maandagmiddag gekom.
“Ek wil net weet wie gaan betaal vir al die water wat gemors het? Ek werk nie en het nie geld om boetes te betaal nie.
“Die munisipaliteit preek vir ons oor waterbesparing, maar hulle is nalatigheid deur nie te reageer wanneer ons hulle bel nie. Soveel water kon gespaar gewees het as die munisipaliteit net gekom het toe ons hulle Saterdagoggend gebel het,” verduidelik sy.
Volgens Speak het sewe ander watermeters in Lemurstraat ook gebars.
Tidimalo Chuene, ‘n munisipale woordvoerder, het die voorval bevestig.
“Ons weet van 35 watermeters in die woonbuurt wat stukkend was en ons het dit Maandag reggemaak. Die munisipalteit dra verantwoordelikheid vir die koste van die water wat gemors het. Dieselfde reël geld wanneer ‘n waterpyp bars. Ons sal ook ondersoek instel oor hoekom daar nie dadelik gereageer is nie.”



