Drawwer met mes gesteek
'n Voormalige voorsitter van die Polokwane Atletiekklub, Sean Jacobs, is Donderdagoggend agterop 'n bakkie gelaai en hospitaal toe geneem nadat hy tydens 'n vroegoggend drafsessie ernstige beserings opgedoen het toe hy aangeval is.
POLOKWANE – ‘n Voormalige voorsitter van die Polokwane Atletiekklub, Sean Jacobs, is Donderdagoggend agterop ‘n bakkie gelaai en hospitaal toe geneem nadat hy tydens ‘n vroegoggend drafsessie ernstige beserings opgedoen het toe hy aangeval is.
Jacobs en sy drafmaat, Ounooi Breedt, was omstreeks 05:45 in Munnikrylaan in die omgewing van Thornhill, toe twee mans hulle genader het. Die een aanvaller het Jacobs vier maal met ‘n mes gesteek, terwyl die ander een, wat waarskynlik ongewapen was, vir Breedt aangeval het deur haar vingers te byt.
Die atlete se selfone en tekkies is gesteel.
‘n Bakkie het kort daarna by hulle stilgehou, en die bestuurder het Jacobs na Mediclinic Limpopo gehaas.
Jacobs se vrou Ansonia, sê sy het gereedgemaak vir werk toe sy die oproep van Breedt gekry het oor wat gebeur het.
“Sean het vier messteke opgedoen: agter die skouers en in die rug. Die mes is in die aanval deur een van sy longe. Teen druktyd was hy in die hoësorgeenheid en kon reeds self regop kom en beweeg. Ansonia is baie dankbaar teenoor die onbekende mense wat haar man en Breedt hospitaal toe geneem het.
“Baie dankie vir julle hulp. Ons weet nie wie julle is nie, maar ons is innig dankbaar.” Volgens Jacobs se pa, Louis, is dit skreiend dat wetsgehoorsame inwoners in vrees moet lewe en nie eens met die vrymoedigheid kan leef dat hulle veilig is tydens ‘n oefensessie nie.
Die huidige voorsitter van die Polokwane Atletiekklub, Johan van Vuuren, stem saam. “Dit is belaglik dat atlete hierdie teenspoed moet oorkom. Sigbare polisiëring is nodig om areas veilig te kry.”
Van Vuuren meen die Munnikrylaangebied tussen Thornhill en Bendor bied skuiling vir booswigte vanweë die oop ruimtes en bosse. Vroeër vanjaar is nog ‘n topatleet van die stad, Johan van der Merwe ook met ‘n mes gedreig tydens ‘n drafsessie in dieselfde area. Ook hy is van sy persoonlike besittings beroof. Hy het nie erge beserings opgedoen tydens die aanval nie.
Volgens die stad se polisiewoordvoerder kapt. Ntobeng Phala, doen die polisie ‘n beroep op drawwers om in groepe van vier of meer saam te oefen.
“Groter groepe word nie maklik geteiken nie. Ons vra ook dat drawwers waardevolle items tuis los. Booswigte sien oorfone en selfone, en dit maak van drawwers maklike teikens.”
Hy wys ook op die moontlikheid dat, wanneer drawwers oorfone dra, hulle te laat besef hulle is in die moeilikheid.
Die polisie gaan patrolering in die gebied opskerp, het hy bygevoeg.



