Local NewsNews

VLU ‘n hawe vir Alta van Aardt

Om te verhuis na 'n nuwe dorp en dan by die gemeenskap in te skakel is nie maklik nie, maar die Vroue Landbou-unie (VLU) het Alta van Aardt baie gehelp in hierdie opsig.

POLOKWANE – Om te verhuis na ‘n nuwe dorp en dan by die gemeenskap in te skakel is nie maklik nie, maar die Vroue Landbou-unie (VLU) het Alta van Aardt baie gehelp in hierdie opsig.

Alta is in November verlede jaar verkies as die voorsitter van die VLU se Finesse-aandtak in Polokwane. Sy is ook verkies as die Koraalstreek se beoordelaarssameroeper.

“Ek het van Hennenman na Rustenburg getrek en besef die enigste manier om vriende te maak, is om betrokke te raak by die kerk of die VLU,” het sy vertel.

Alta het by die VLU ingeskakel en was vir 20 jaar betrokke by die VLU in Rustenburg, waar sy ook la-ter die voorsitter van die provinsiale VLU was voordat sy en haar man, Ben, in 2012 na Polokwane verhuis het.

“Ek en Ben is in 1979 getroud en het twee kinders op wie ek vreeslik trots is. Hulle bly albei in Gauteng en ons probeer mekaar ten minste so een maal ‘n kwartaal sien. Ek het ook ‘n kleindogter van 11 jaar oud,” vertel sy.

Alta is in Kroonstad gebore en het in dié distrik groot geword. Na skool is sy na die Universiteit van die Vrystaat waar sy onderwys studeer het.

“My eerste pos as onderwyseres was ‘n wonderlike ondervinding. Dit was by Laerskool Turffontein in Johannesburg in 1982. Dit was my eerste kennismaking met armoede, maar dit was een van die lekkerste tye in my lewe.”

Later jare het sy begin trourokke maak, maar die bruide het later te veel vir haar geword en sy het haar besigheid gestaak.

Deesdae lê sy in haar vrye tyd vrugte in en kook sy konfyt.

“Ek is vreeslik lief vir preservering. Ek lees ook baie, iets waarvoor ek nooit tyd gekry het nie. Ek is ook ‘n fanatiese tenniskyker,” vertel sy.

Alta beskryf haarself in een woord, kompleks. “Ek is ‘n geweldige komplekse mens, maar sal graag onthou wil word vir my entoesiasme en passie vir sekere goed.”

Alta hou ook baie daarvan om musiek te maak.

“Ek speel klavier, orrel en kitaar en baie min mense weet dit van my.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button