POLOKWANE – Die Arende-klas van Akademie Reformia het weggebreek en vorm nou nie meer deel van Akademie Reformia nie.
Hulle staan nou bekend as La Wiida Leersentrum vir Geremdes en Gestremdes.
Die skool, geleë in Rabestraat, akkommodeer tans 18 leerders tussen die ouderdomme van ses en 14 jaar.
“Ons neem leerders in wat jonger is en sal ook leerders tot die ouderdom van 18 inneem,” vertel Christina Langenhoven, hoof van dié skool.
“Ek is die hoof van die skool, maar Vallerie O’Reily is die sentrumhoof.
“Sy is ook ‘n ouer en deel van die stigterspan van die sentrum.”
Volgens Christina beteken die naam van die skool “Lewe” en kon hulle nie aan ‘n beter naam vir die sentrum dink nie.
Daar is twee gekwalifiseerde onderwyseresse en een assistent wat by die sentrum werksaam is.
“Ons open amptelik eers later die maand en sal na die skool begin het, ‘n funksie hou om dit amptelik bekend te maak,” het Christina vertel.



