Local NewsNews

Inwoners is siek en sat vir stowwerige, gevaarlike pad

Westenburg-inwoners wat in die HOP-gedeelte van dié woonbuurt woon, sê hulle het genoeg gehad van die grondpaaie waarop hulle elke dag moet ry.

POLOKWANE – Westenburg-inwoners wat in die HOP-gedeelte van dié woonbuurt woon, sê hulle het genoeg gehad van die grondpaaie waarop hulle elke dag moet ry.

Die inwoners beweer dat, se-dert die HOP-area sowat 17 jaar gelede geskep is, het die munisipaliteit net die hoofpaaie geteer en nooit weer ‘n poging aangewend om die ander strate te teer nie.

Bertha Richter, ‘n inwoner, sê die stofpaaie maak die huise stowwerig, veral wanneer die Augustuswinde begin waai.

“Ons moet permanent ons huise se deure toehou, anders is die hele plek vol stof. Dit is net te erg. Wanneer dit reën is dit ook ‘n groot probleem, want dan is die paaie seepglad en is dit moeilik vir motors om hier te ry.

“Dit help nie ons kla by die munisipaliteit nie, want ons versoek dat die paaie geteer moet word val op dowe ore,” sê sy.

Review het die HOP-area besoek en gevind dat net drie strate geteer is; Rhesus-, Grand Canyon- en Macaquestraat.

Motoriste het bevestig dit ‘n “kopseer” is, veral omdat sekere van die strate baie ongelyk is.

“‘n Mens moet baie versigtig ry, want anders maak jy jou voertuig seer.

“Daar is baie los klippe wat in die pad lê.

“As dit reën, spoel die reënwater die sand tot onder in Grand Canyonstraat, een van die hoofpaaie in Westenburg en dan is dit ‘n nagmerrie vir voertuie om in die straat te ry.

“Die inwoners skep die ergste sand uit die pad sodat motoriste kan verbyry en dit help ‘n bie-tjie,” verduidelik ‘n motoris.

Malesela Maubane, ‘n munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit maak werk daaraan om te verseker dat alle paaie in die munisipale gebied in ‘n goeie toestand is. Daarom word paaie wat nog nie geteer is nie, gereeld geskrap.

“Die teer van paaie en ander basiese dienslewering word gedoen volgens ‘n prioriteitslys wat opgestel en goedgekeur word deur liggame soos die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), verteenwoordigersforum en gemeenskapskonsultasies.

“Inwoners van Westenburg, veral die van die HOP-gedeeltde het dus ‘n kans om die probleem op te bring vir die teer-priori-teitslys tydens die jaarlikse GOP-gemeenskapskonsultasies,” verduidelik Maubane.

Inwoners kan enige pad of stormwater probleme by die volgende munisipale nommers rapporteer: (015) 290 2372/ 2457/ 2458.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button