Local NewsNews

Dok Teichler groet

Na 34 jaar neem dr. Ernst Teichler afskeid van Polokwane.

POLOKWANE – Na 34 jaar neem dr. Ernst Teichler afskeid van Polokwane.

Hy gaan in Pretoria woon, waar sy drie kinders en vier kleinkinders nou die trekpleister geword het, en waar ‘n ietwat rustiger dagprogram op hom wag.

Teichler gaan nie summier aftree nie, maar sy uitgebreide ervaring as kinderarts tot die beskikking stel van ‘n dagkliniek, die Intercare Hazeldene-kliniek.

Hy sal ook meer tyd saam met sy vrou van die laaste 41 jaar, Klein, deurbring

“Dit pas my baie goed, ek gaan van dag tot dag konsultasies doen,” sê hy.

Teichler, ‘n groot vertroueling van menige ouer in die stad, word 70 in Desember.

Dat hy in die destydse Pietersburg beland het, is “groot toeval”, vertel hy.

“Ek het eintlik ‘n aanstelling gehad in Vereeniging. Dr. van Niekerk, my voorganger hier in die stad, het my gevra om tog te kom kyk na sy praktyk. Hy het ‘n professoraat in Bloemfontein gekry en sou weggaan.

“Ek het destyds in Windhoek gepraktiseer waar ek twee jaar was nadat ek aan die Tygerbergse Kinderhospitaal gespesialiseer het.

“Ek het toe wel kom kyk en besluit om hierheen te kom. Ons het 34 baie wonderlike jare hier in Polokwane deurgebring.”

Hy vertel hoe hy hier met blomme en koek verwelkom is.

“Die vriendelikheid van die mense het altyd dieselfde gebly. Dit is besonderse mense wat hier woon. Ons gaan met swaar harte weg.”

Sy praktyk het hy einde Julie gesluit. Sy telefoon lui steeds; die inbellers word een vir een na ander kinderartse in die stad verwys.

Talle van sy pasiënte het beloof om Pretoria toe te ry as hulle hom sou nodig kry. “Dit sal so lekker wees om hulle te sien,” sê Teichler, want baie van hulle het hy as kinders behandel en toe later hulle kinders behandel, selfs party se kleinkinders.

Hy vertel dat om kinderarts te word, nie sy eer-ste keuse was nie. Hy wou eerder ‘n plastiese chirurg word, maar sy broer het hom oortuig hy sou ‘n beter internis as ‘n chirurg wees.

“Hy was reg, hy het my reg opgesom. Dit was die regte rigting vir my. Ek is mal oor kinders en het nog geen oomblik spyt gehad oor die rigting wat ek gekies het nie.”

In die tyd wat hy hier in die stad deurgebring het, het hy met baie spesiale mense skouers geskuur: dr. Pierre Burger, “‘n goeie rolmodel”, Tjol Lategan, ” ‘n enigma” en dan natuurlik, Jack Botes.

“Daar is soveel dinge wat ek van Polokwane sal onthou: die lekker tye langs die Ebenezerdam, die vriendelike mense.”

‘n Personeellid wat die laaste agt jaar al vir hom werk, Hazel Caroto, kry trane in haar oë toe sy vertel hoe lekker sy saam met hom gewerk het.

“Vertel vir hulle hoe ‘n kwaai baas ek was,” skerts hy.

Sy vertel hoe heerlik sy saam met hom gewerk het en hoe sy sy grappies gaan onthou. “Ek is baie hartseer,” vertel sy deur die trane heen.

Sy gaan die laaste administratiewe sake afhandel en dan is dit tyd om ander werk te soek. Agter haar is daar nog ‘n lêer op die rak: Kraamsaal, Maart /April 2014.

Die kinderarts is weer aan die woord: “Sê vir die mense baie dankie vir die lojaliteit, hulle vriendskap, getroue ondersteuning en die baie geskenke wat ons die laaste tyd ontvang het. Sê asseblief dankie.”

Hy draai weg.

“Ek is ‘n ou wat maklik huil. Maar ek is nou al deur vier afskeidsfunksies sonder om te huil.”

Hy verdwyn in ‘n ander vertrek van die amper leë huis waar die treklorrie gister Woensdag die laaste goed sou oplaai vir die trek vanoggend (Donderdag).

‘n Groot ‘Auf Wiedersehen’, dokter Teichler.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button