Fluks met rooi lippe
"Ouderdom maak nie saak nie, ek het baie energie, ek is gesond en ek geniet my werk," sê die 73-jarige Loy Kotze.
POLOKWANE – “Ouderdom maak nie saak nie, ek het baie energie, ek is gesond en ek geniet my werk,” sê die 73-jarige Loy Kotze.
Loy werk al vir 13 jaar by Jo-Ann Rusoord in Andrewsstraat.
Voordat Loy by die tehuis begin werk het, was sy ‘n verpleegster vir 25 jaar.
Sy het 16 jaar lank vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) gewerk en ses jaar vir Wen so Med.
Terwyl sy vir Wen so Med gewerk het, het sy naweke uitgehelp by Jo-Ann Rusoord en die dag wat Wen so Med hul deure gesluit het, het sy permanent by dié tehuis ingeskakel.
“Ek geniet my werk en dis vir my lekker om met bejaardes te werk, al is ek ouer as party van hulle. Toe ek 70 jaar oud was het ‘n dokter vir my gesê as ek aanhou werk sal ek nog 70 jaar leef, maar as ek stil gaan sit by die huis, sal ek doodgaan. Dis toe dat ek besluit het ek gaan nie stilsit en vergaan nie. Ek het ‘n wonderlike man en hy ondersteun my begeerte om aan te hou werk,” sê sy.
Anne-Marie Massyn, eienaar van Jo-Ann Rusoord, sê Loy en haar man se verhouding is asof uit ‘n storieboek.
“Die twee is so verlief. Wanneer Loy by die werk kom bel hy haar om te hoor of sy veilig is en dan sê hy sy moet die res van haar dag geniet. Elke middag kom hy om vir haar hallo te sê en dan koer hulle vir mekaar buite by die hek. Loy is ook ‘n baie besondere mens. Sy raak nooit moeg nie, het baie geduld. Sy het soveel liefde vir die bejaardes en sy is baie netjies; soos sy in die oggend instap by die werk so gaan sy huistoe in die middae; rooi lippies netjies aangesit,” sê Massyn.
Omdat Loy so lief is vir haar rooi lippe is sy by die tehuis gedoop as die tannie met die rooi lippies. “Ek kan nie werk as my lippe nie rooi is nie. Dit is ‘n instelling van my jongmeisiedae af,” sê sy skaam.
Volgens Loy het sy nog nie enige uitdagings teëgekom in haar werk wat sy nie kon oorkom nie.
“Ek staan elke oggend met ‘n lied in my hart op omdat ek my werk so geniet. As ek nou moet weggaan by die tehuis sal ek die bejaardes te veel mis. Elkeen van hulle het ‘n spesiale plekkie in my hart. Tannie Anna Els se gesing en oom Japie Opperman se geselsies. Hy praat nie baie nie, maar hy is baie geheg aan my,” sê sy.
Loy se droom is om eendag haar eie tehuis te besit. “My tehuis sal nie net vir bejaardes wees nie, maar vir haweloses en arm mense ook.
“Ek wil graag uitreik na jongmense en vir hulle vra om lief te wees vir ou mense en om vir hulle aandag te gee. Hulle het dit nodig.”



