Bekende Polokwane-dokter Johan Kruger sterf op 85
’n Leeftyd van diens, omgee en toewyding aan pasiënte word onthou ná die afsterwe van ’n geliefde dokter.
POLOKWANE – Dr. Johan Kruger (85) het as dokter begin praktiseer toe huisbesoek nog ‘n groot deel van ‘n dokter se daaglikse take uitgemaak het.
Johan is op 22 Mei na ‘n kort siekbed aan onreëlmatige hartklop oorlede, en sy seun, Mannie, vertel hy het tot sy afsterwe toe nog gepraktiseer.
Kinderjare en gesinslewe
“My pa was die enigste seun en middelste van drie kinders. Hy het saam met sy susters, Ria en Marie Louise in Pretoria grootgeword en nie maklike kinderdae gehad nie. Hy is in die middel van die grootste oorlog wat die wêreld al beleef het, gebore.”
Johan se pa was ‘n doktor in ingenieurswese, wat in die vyftig- en sestigerjare as hoofuitvoerendebeampte van Iskor werksaam was.
Dit het beteken dat Kruger en sy susters soms tot nege maande weg van hulle ouers af was.
“Dit het soms ook beteken dat my pa en ma ons bykans nooit alleen gelos het nie. Hy het alles saam met sy vyf kinders gedoen. Sy groot stokperdjie was sy Arabierstoetperde en Woensdae, wanneer hy nie gewerk het nie, en naweke, het ons tyd saam met die perde spandeer. Alhoewel ons vakansies altyd kort was, maksimum ‘n week, het ons gereeld gaan vakansie hou, gewoonlik by die see of daar waar hy kan swem, hy was ‘n kranige borsslagswemmer.”

’n Mediese loopbaan neem vorm aan
Johan het in 1963 sy studies aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) voltooi en nadat hy sy huisdokterjaar voltooi het, na Polokwane verhuis. In 1964 trou hy met Lizette en die egpaar het vyf kinders.
Hy word ‘n mediese beampte by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal met ‘n voorliefde vir chirurgie. Later het hy besluit om vir ‘n tyd in Piet Retief te werk. Nadat hy teruggekeer het na Polokwane, het hy vir ses jaar as die mediese beampte van die departement van chirurgie by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal gewerk.
Die bou van ’n legendariese praktyk
“My pa het in 1972 besluit om die privaat praktyk te betree en ‘n huis in Jorissonstraat gekoop wat hy in konsultasiekamers omskep het. Die praktyk het vinnig gegroei en na slegs ‘n paar maande was dit ‘n legendariese plek. Die harde werk het egter sy tol begin eis en hy het uitgebrand. In ‘n poging om ‘n minder stresvolle lewe te lei, begin hy weer by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal as mentor in ortopedie en chirurgie te werk.”
Johan het die praktyk vir ‘n tydperk van drie jaar uitgehuur en het, toe hy besef hy moet weer privaat praktiseer, ‘n huis in Joubertstraat gehuur waar hy nog ‘n suksesvolle praktyk opgebou het.
Werk bo aftrede
In 1986 keer hy terug na die Jorrissonstraatpraktyk waar Mannie in 1992 by hom aangesluit het.
“Dit sou net vir ‘n kort tydperk wees, maar nadat ek gesien het hoeveel pasiënte so dankbaar is, het ek my hart verloor en besluit om aan te bly. Vir die eerste keer het my pa tyd gehad om aan hom en aan my ma te spandeer. Hulle het die wêreld vol gereis en hy was ook aktief betrokke by die mediese vereniging, waar hy die landswye president van die Mediese Vereniging van Suid-Afrika was.”
Op 70-jarige ouderdom besluit Mannie dat dit tyd is vir Johan om af te tree.
Hy weier egter, en begin as locum vir Mannie te werk en later as permanente locum vir dr. Draad Hattingh, waar hy nog tot kort voor sy dood gewerk het.
’n Saggeaarde mens met ’n groot hart
“My pa het ‘n diep seer binne hom gedra, veral na die ontydige dood van sy skoonseun, Willie, in 2012, my broer, Conrad in 2021 en my ma se afsterwe in Desember 2023.
“My pa het, sover ons weet, geen vyande gehad nie en voluit en met geesdrif gelewe. Hy was saggeaard en liefdevol. Hy was ‘n uitstekende diagnostikus en het selde ‘n fout gemaak. Hy het nooit koud gekry nie en het altyd met ‘n kortmou wit doktersbaadjie gaan werk.”
Mannie onthou die handgeskrewe nota wat altyd op Johan se lessenaar was met die woorde ‘You do not quit because you grow old, you grow old because you quit’.
Kollegas bring hulde
Hattingh erken hulle mis alreeds vir Johan by die praktyk.
“Dit was vir ons ‘n besonderse eer en voorreg om vir meer as 12 jaar saam met Dok te kon werk. Ons het daagliks beleef watter besonderse empatiese en simpatieke geneesheer hy was. Daar was soveel pasiënte wat met waardigheid, omgee en opregte belangstelling behandel is, en die dankbaarheid en tevredenheid van pasiënte het daarvan getuig.”
Hy sê die afgelope paar jaar was daar soms ‘n bietjie gebewe, maar vir sy pasiënte was dit deel van Dok se unieke menswees en warmte.
“Uit respek en te nagedagtenis aan Dok laat ons u ondersoekkamer net so – vir personeel en pasiënte bly dit ‘n besondere plek vol herinneringe. Dankie vir alles wat Dok vir ons, die praktyk en elke pasiënt beteken het. Rus in vrede, ou Dok!”




