Munisipaliteit sê tehuis moet maar net betaal
Die einde van Aretha Tehuis se hoë munisipale rekeningnagmerrie is nog glad nie in sig nie.
POLOKWANE – Die einde van Aretha Tehuis se hoë munisipale rekeningnagmerrie is nog glad nie in sig nie.
Die munisipaliteit beweer dat die eienaar van die tehuis agterstallig is met betalings en daarom is die rekening so hoog.
Malesela Maubane, ‘n munisipale woordvoerder sê die tehuis het ‘n krediet van meer as R2 000 vir Augustus gekry, maar die rekening is steeds agterstalling.
“Die eienaar betaal telkens minder as wat die rekening is en dis hoekom die rekening agterstallig is. Die eie-naar kan reëlings tref met die munisipaliteit om die agterstallige bedrag af te betaal oor ‘n sekere tydperk; drie maande of langer,” verduidelik Maubane.
Maar Ina Koen, matrone en eie-naar van die tehuis sê sy het nog nooit ‘n betaling op haar rekening gemis nie en verstaan nie hoe die munisipaliteit kan sê sy is agterstallig nie.
“Ek betaal elke maand my reke-ning getrou en ek het bewyse van betalings. Ek betaal R4 000 elke maand sedert die probleem met die rekening begin het. Dis waarop ek en die munisipaliteit ooreengekom het.
“In Junie het hulle ons krag afgesit en ek moes behoorlik rondbel vir hulle om die krag weer aan te sit. Ons was meer as twee dae sonder krag en mense moes vir ons water aandra. Ons moes ook buite vuur maak om kos te kook. Dis mos nie reg nie,” sê Koen.
Die tehuis se munisipale rekening staan hierdie maand op R37 000.
In die afgelope maande, sedert Augustus verlede jaar, het die munisipale rekening gewissel tussen R6 000 en R37 000.
Volgens Koen het die probleem reeds in Julie verlede jaar begin en elke maand het die rekening gestyg, al het hulle getrou betaal.
Review het in Februarie die tehuis besoek en gevind dat die moontlike rede vir hierdie hoë rekening ‘n verkeerde watermeterlesing kon wees. Tydens Review se besoek aan die tehuis het die watermeterlesing op 7 229 eenhede gestaan, maar op die munisipale rekening is die watermeterlesing as ‘n volle 33 551 eenhede aangedui.
Die munispaliteit het aan Koen verduidelik dat daar fout is met die watermeter en dat hulle dit wil vervang met ‘n nuwe een en die ou een wegstuur vir toetse.
Die ou meter is vervang, maar die lesings op die watermeter en die op Koen se munisipale rekening verskil steeds van mekaar.
Review het verlede week die tehuis besoek en gevind dat die watermeterlesing 242 eenhede is, maar op die munisipale rekening word die watermeterlesing as 37 191 eenhede aangedui.
Koen sê: “Ek is moedeloos en weet nie meer wat om te doen nie. Ons neem elke dag om 17:00 watermeterlesing soos die munisipaliteit ons aanbeveel het en volgens ons lesings verstaan ons nie hoekom die rekening so hoog is nie.”
Alhoewel Review se verslagge-wer die rekening gesien het en vir Maubane verduidelik het dat die eintlike watermeterlesing en die watermeterlesing op die munsipale rekening met duisende verskil, het hy dit ontken.
Volgens Maubane is die watermeterlesing 167 en die tehuis het 96 eenhede vir die laaste maand gebruik.



