Tops at Spar Flora Park sorg vir die vonkelwyn se borrels by spogtroue
Geen ander geluid sê "voorspoed en geluk" soos die geklap van vonkelwynproppe nie.
POLOKWANE – Geen ander geluid sê “voorspoed en geluk” soos die geklap van vonkelwynproppe nie.
By Review se troue van die jaar, dié van Bernadine Hugo en Gert du Preez, sal die vonkelwynproppe klap en die heildronke behoorlik ingestel word danksy die groothartige borgskap van Tops at Flora Park Spar in Marshallstraat.
Henry Bojé, bestuurder van Flora Park Spar, sê dit is vir dié winkelgroep ‘n voorreg om deel te wees van Bernadine en Gert se troue. “Hierdie borgskap is vir die gemeenskap, want ons is deel van die gemeenskap,” sê hy.
Bojé sê Tops at Flora Park Spar het onlangs hul tweede verjaardag gevier en die winkel gaan van krag tot krag. Hy skryf die winkel se sukses toe aan hul getroue klante se ondersteuning en lojale personeel.
“Ek is ongelooflik trots op die vriendelike en hulpvaardige mense wat elke dag hier gereed staan om ons klante met die beste raad en diens te bedien.”
Bernadine kon nie genoeg dankie sê vir hierdie borgskap nie.
“Drank is een van die duurste uitgawes van ‘n troue en ek is so dankbaar teenoor Henry en sy span. Dit beteken baie vir ons dat hulle bereid is om die vonkelwyn vir ons troue te borg,” vertel sy.
Volgens PW Griesel, bestuurder van Tops at Spar Flora Park, is hierdie winkel ook die enigste drankwinkel in Polokwane wat bottels Cabernet Sauvignon vir hul klante kan laat graveer.
“Ons bied hierdie diens aan ons klante, hoofsaaklik ons korporatiewe klante. ‘n Klant kan enige foto, prentjie of boodskap vir ons bring en ons kan dit op die bottel laat graveer. Sulke bottels maak oulike geskenke of aandenkings. Skole en koöperatiewe groepe gebruik ook hierdie gegraveerde bottels om op te veil as deel van hul fondsinsamelingsinisiatiewe.
“Indien die bottel oopgemaak word en die klant wil dit herseël, kan ons dit ook doen. Ons is die enigste drankwinkel in die stad wat die eksklusiewe reg gekoop het om dit te kan doen,” verduidelik Griesel.
Wanneer die borreltjies die neuse van Bernadine en Gert se gaste kielie, neem gerus ‘n oomblik en lig die glas op Tops at Spar Flora Park.



