DBV uitgeroep om beeste langs die pad by te staan
Die Polokwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes verlede Woensdag ingryp om beeste op 'n sleepwa, wat op die R71-verbypad in Dorpstraat gestaan het, te help.
POLOKWANE – Die Polokwane Dierebeskermingsvereniging (DBV) moes verlede Woensdag ingryp om beeste op ‘n sleepwa, wat op die R71-verbypad in Dorpstraat gestaan het, te help.
Volgens Anton du Bruyn, bestuurder van die Polokwane DBV, het die sleepwa ‘n pap band gehad en was die eienaar nêrens te vinde nie. Ook het ‘n veldbrand naby die sleepwa gewoed wat die beeste baie onrustig gelaat het.
Du Bruyn het vertel verkeersbeamptes en die eienaar van die sleepwa het na ‘n geruime tyd by die toneel opgedaag. Die eienaar het aan DBV-beamptes verduidelik dat hy die beeste op ‘n veiling gekoop het en oppad was na sy plaas in Modjadjiskloof toe die sleepwa se band pap geraak het.
Hy het die sleepwa afgehaak sodat hy ‘n nuwe wa kon gaan haal.
Du Bruyn het die eienaar aangeraai om die beeste na ‘n veilige plek te neem waar hulle water kon drink en hy het ingestem.
Die beeste kon water drink en rus terwyl die sleepwa se pro-bleme opgelos is.
“Die DBV is altyd gereed om na diere van enige aard om te sien en hulle te help,” het Du Bruyn gesê.



